2 minute read

5 Wenke vir Ontspanning na die Eksamen

Eksamen? Klaar. Geen stres, geen bekommernisse en die belangrikste … Geen skool!

As jy daaraan dink, het ons omtrent vir ses weke geleer en week na week vraestelle geskryf. Natuurlik is dit uitputtend en ons kon nie wag om ons voete by die skool uit te sit nadat ons daardie laaste vak geskryf het nie Wel, nou kan ons!

Advertisement

Hier is vyf wenke om lekker te ontspan ná die eksamen:

1 Ontspan en kuier êrens anders

Kom ’n bietjie weg an die goed wat jy die meeste sien. Dieselfde vier mure en ’n dak kan nogal vervelig raak na ’n rukkie …

Kuier by vriende of, familie, of vat net tyd af vir jouself. Dit laat jou vergeet van alles in verband met skool en laat jou agterkom dat jy nog vir ’n drie weke lank elke dag dít kan doen!

2 Eet!

Ek bedoel nie “maak koffie en ’n broodjie” nie. Studies sê die beste kos om te eet of drankies om te drink vir ontspanning, is die volgende: Groentee, sjokolade, heuning, mango’s en kougom.

Ander kosse wat jy kan eet, is tuisgemaakte kos of jy kan sommer een aand gaan uiteet.

3 Mediteer

Vind innerlike vrede. Dit is nie nodig om terug te gaan berge toe nie — vyf minute van vrede is al wat nodig is om die voordele van meditasie te oes. Daar is bewyse dat net twee vinnige stil meditasie-sessies per dag stres en depressie kan verlig. Vind ’n gemaklike, stil plek, konsentreer op jou asemhaling, en voel hoe die angs begin verdwyn.

Voorbeelde van nog meditasie-maniere is: asemhalingsoefeninge, tel van 100 tot 0 of die beste manier van hulle almal ... slaap.

4 Ontspan jou lyf

Het jy nog ’n bietjie spaargeld oor? Die spa is die regte plek om heen te gaan. ’n Massering is een van die beste maniere om te ontspan. Opgeleide masseuse weet hoe om al die stres en seer uit jou liggaam te druk sodat jy soos ’n nuwe, verligte persoon voel as jy by daardie deure uitloop.

Doen so nou en dan ’n aktiwiteit buite. Om aktief te bly kan jou ook laat vergeet van alles waaroor jy bekommerd is. Wees vir ‘n rukkie in die son, maar nie só lank dat mense dink jy fotosinteer nie. Net lank genoeg dat jou lyf ’n bietjie suiwer vitamiene D kry.

5 Musiek

Almal hou van ten minste een soort musiek. Of dit hip-hop, rap, R&B, K-pop, rock, klassiek of sommer Gqom is, musiek laat ’n mens ook lekker ontspan, so sit jou oorfone in, kies jou gunstelingliedjie, en laat die musiek sy werk doen.

Vir dié wat hul vingers vinnig kan beweeg, ‘n groot asem het, of net hou van goed slaan, leer om ’n instrument te speel. Anders kan jy liedjies skryf. Om al jou gevoelens op papier neer te spoel in die vorm van ink en woorde, is ‘n oue maar goue manier om ontspanning te verseker.

Oefen dié wenke sodat dit ná ’n ruk vir jou makliker word. Teen volgende kwartaal sal jy baie meer ontspanne en gefokus wees. Onthou: Probeer is die beste geweer, maar moenie jouself in die voet skiet nie!

Deur Yaseen Jacobs

This article is from: