2 minute read
Redakteursbrief
from S012022
by nustobaydo
Ek’s ’n vrou vir ’n plan, wel ’n plan van ’n soort.
Want jy kan ook maklik dinge voos beplan en die lekker uit die lewe haal. Maar hier’s die ding, goeie beplanning orden tog jou gedagtes en wys hoe jy van A-Z moet kom. Soos dit tans in die wêreld gaan, klink dit ál meer na ’n blink gedagte, want nie een van ons kan nóg ’n Covid-jaar so half in afwagting, so half hoopvol, so half besluiteloos ingaan nie. In 2022 moet ons ’n plan hê! Wel, soort van. In my lange loopbaan in die media het ek al iets van als gesien. Mense wat vas en los met planne werk. Daar’s dié met gróót en belangrike planne. Hulle beïndruk met jaarplanne en vyfjaarplanne. Sukses, sê hulle, is g’n toeval nie. Dis ’n ding wat sekuur uitgewerk word, doelwitte wat gestel word en só bepaal jy ook wat belangrik is en wat nie. Hulle weet presies waar hulle uiteindelik wil wees, en hoe om daar uit te kom. Ontspoor raak hulle nie maklik nie, want vir onverwagte teenspoed is daar óók ’n plan. En hul “nee” kom vinnig en beslis. As dit nie strook met die gróót plan nie, is dit ’n ongewenste afdraaipad. Maar ek het ook al saam met mense gewerk wat skaars ’n plan het. Wonderlike mense wat net go with the flow, asof daar geen môre is nie. Jy kan mos dink, in ’n kreatiewe wêreld soos hierdie is daar baie vir wie ’n grênd plan bloot ’n irritasie is. ’n Demper op energie en entoesiasme. ’n Struikelblok vir die vrye vloei van idees en gedagtes. Vir hulle is die lewe ’n lang, lieflike organiese proses – die een ding lei spontaan na ’n ander. Kom daar ’n kinkel, buig en plooi hulle saam met daardie kinkel, en voilà!, daar’s iets nuuts en . . . anders. Soms héél anders. So anders, die aanvanklike idee is skoon vergete. Ek respekteer albei. Jy kan net jou hoed afhaal vir mense wat oorweldigend glo in iets en met staal in hul are ’n meesterplan volg om by daardie groot doelwit – in baie se oë dikwels die onmoontlike – uit te kom. Die wêreld het sulke onwrikbares nodig. En die skaars-met-’n-plan-mense, dié met immer ’n wip in hul stap en glinstering in die oog, vir hulle het ek ’n sagte plek.Want dié dromers maak die wêreld dikwels ’n mooier en beter plek. Maar waar los dit die res van ons in 2022? Mooi in die middel, sê ek. Daar’s niks verkeerd met middel-mense nie; inteendeel, hulle is interessant en inspirerend. Dis hulle wat kan vat én los, die groter prentjie het en die proses bestuur om teikens te behaal, maar wanneer dit kan, ook skiet gee om ’n bietjie kreatiwiteit binne te nooi. Wie se besliste nee soms ’n klinkende ja word. Feit is,’n 2022-plan gaan nou eerder ’n hulp as ’n hindernis wees. Want daar’s ’n einddoel, ons werk in ’n rigting. En dit hoef nie ’n meesterplan te wees nie, eerder net ’n goeie plan wat ’n lekker kreatiewe verrassing hier en daar toelaat. ’n Plan van ’n soort, sê ek mos!
Advertisement