3 minute read
Nataniël sê
from S012022
by nustobaydo
So groot en genesend as wat elke Kersfees vir baie
mense is, so bly ’n nuwe jaar vir menige die blote gevolg van berekeninge, sterrekunde, seisoene en die behoefte aan ’n kalender. Vir die meerderheid van planeetbewoners is dit ’n terugkeer na ’n werkplek, ’n posisie en ’n roetine. Vir ander, dié wat vryskut moet oorleef en afhanklik is van publieke smaak, is dit (wel, tot onlangs) ’n energieke en benoude wegspring. Wat gaan ek doen wat oorspronklik is? Hoe gaan ek aandag trek? Sal my nuwe projek die voriges oortref? Is hierdie een uiteindelik mý jaar? Maar nou, hier in die huidige werklikheid, lê die nuwe jaar uitgestrek soos ’n lang, taai en ongenadige vraagteken. Gaan ons alles bly beplan net om elke paar maande in ’n nuwe krisis met nuwe beperkinge vas te loop? Gaan ons oorleef as ons die jaar moeg begin? Moeg van teleurstellings, slegte nuus, wantroue en finansiële druk. Hierdie wolke was nog altyd op die horison, het gereeld bo ons kom hang, nou bring dit onweer en skud ons heen en weer soos hulpelose vliegtuigies in ’n somerstorm. Ek het hieroor bly dink tydens die feesdae, ek was vir dekades nooit moeg nie. Gespanne, ontsteld, histeries, ja, dis van my beste eienskappe! Maar moeg? Selde. En hier is ek nou, gedaan en met skouers wat pyn onder die wrede vrag. Ervaring en selfkennis moet ’n mens tog kan lei tot by herstel en herlaai, vanwaar hierdie moegheid? Doodeerlik, doodernstig: Die Pole. Dis die nuwe aardrykskunde wat elkeen se innerlike landskap kom rek en krimp en dwarsdraai het. Daar is ’n helder en duidelike verdeel tussen ons.Verdeeldheid het nog altyd hierdie aarde se geskiedenis geskryf, maar nou is dit hier in ons huise, in ons families, werkplekke, kerke, vriendekringe en alle moontlike sosiale strukture. Weg met aborsie! skree een groep. Dis ons reg! skree ’n ander groep. Jaag weg die vlugtelinge! skree een helfte. Help hulle! skree die ander helfte. Hou op steenkool gebruik! skree een lot. Dis ons inkomste! skree ’n ander lot. Hou op reis! waarsku ’n klomp slimmes. Ons móét reis! skree ’n ander klomp slimmes. Vaksineer! skree die wetenskaplikes. Nie ons nie! skree die mense. Die Pole staan soos rugbypale, sigbaar en ver van mekaar. Hulle trek ons in verskillende rigtings, skeur ons in twee, verander ons in vegtendes. Elkeen het opinies, of dit sin maak of nie, elkeen begin en eindig sy dag met ’n uitspraak, of iemand luister of nie, elkeen gebruik sy reg op ’n keuse soos nog nooit voorheen nie. En dis uitputtend, die voltydse gekies en gekoes. Die aanhoudende verduidelikings. Nee, ek gaan nog nie saamkuier nie. Nee, ek weet julle dink dis alles bog, maar ek voel onveilig. Ja, ek weet dis jou keuse. Ja, jy MAG maar kwaad wees, jy MAG dink dis onregverdig, maar ek werk nou net met dié wat reeds gevaksineer is. Nee, nee, soos jy, het ek ook ’n keuse! Versigtig en ligvoets, soos katjies, moet ons mooi trap, die vrede probeer bewaar terwyl ons woedend is oor ander se gedrag, sommiges leef ten spyte, ander leef as gevolg van. Kollegas, familielede en jare lange vriende is skielik die vyand, daar word gestry, gesmeek, verduidelik en uiteindelik gegroet. Ek wonder daagliks of vertonings gaan plaasvind of nie, wanneer ek ooit weer vir Erik en my peetkinders gaan sien, wie ek in my huis kan toelaat, hoe lank ek nog uitnodigings van die hand gaan wys, hoe lank ek nog my tong kan byt voordat ek op maskerlose vreemdelinge begin gil. Nou skielik, ná ’n lang, lang lewe en ’n lang, lang loopbaan en ’n lang, lang tyd van vooruit beplan, staan ek voor ’n nuwe jaar met my vreemde nuwe leefwyse en my onverwagte frase: Dag Vir Dag. Klink dit hopeloos? Nee. Een koppie tee, een diep asem, een gewillige oor, een vriendelike woord, een besluit, een tree. Môre weer. Tot anderkant die storm.
Advertisement