1 minute read

Inleiding

Amerindies is ʼn huldeblyk aan Joseph H Greenberg (1915 – 2001) en Merritt Ruhlen (1944 – 2021).

Die legendariese antropoloog en linguïs Greenberg het in die 1950s internasionale roem verwerf met sy sensasionele klassifikasie van Afrikatale. In sy finale taksonomie van 1963, het hy die meer as 1,200 tale van Afrika binne net vier families geklassifiseer. Een van sy prestasies was sy ontdekking dat die Ntu-tale wat so ʼn wye verspreiding oor sentraal-, oos- en suidelike Afrika het, net ʼn subgroep is van ʼn groter familie met lede in Wes-Afrika en Kordofan, Soedan. Aanvanklik is sy klassifikasie hewig deur Afrikaniste gekritiseer maar dit dien nou as die hoeksteen van historiese linguïstiek in Afrika.

Advertisement

Sy artikel "Some Universals of Grammar with Particular Reference to the order of Meaningful Elements" (1962) het ʼn klassieke werk op die terrein van taaltipologie geword en is steeds een van die mees aangehaalde artikels in die linguïstiek. Die vier-volume “Universals of Human Language” is deur Greenberg geredigeer en in 1978 deur Stanford University Press gepubliseer.

Die twee volumes van Greenberg se finale werk, "Indo-European and its Closest Relatives: The Eurasiatic language family, " het in 2000 en 2001 verskyn.

In sy mees omstrede boek, “Language in the Americas” (1987), het Greenberg die tale van die Amerikas in net drie families geklassifiseer. Benewens Na-Dene en Eskimo-Aleut, het hy Amerind as een familie identifiseer. Die woede wat dit ontketen het, kan vergelyk word met die woede teen Darwin se bevindinge. Skaars ʼn jaar na publikasie, het ʼn professor van genetika, Luigi Luca Cavalli-Sforza bevind dat die bevolkings van die Amerikas geneties in dieselfde drie groepe val as die taalgroepe wat Greenberg identifiseer het.

Die antropoloog en linguïs Merritt Ruhlen (1944 – 2021) was die mees prominente advokaat en ondersteuner van Joseph Greenberg se werk. Hy was op die voorpunt van inisiatiewe om die bevindinge van historiese linguïstiek met ander menswetenskappe soos genetika en argeologie te koördineer. Sy spesialisvelde was multilaterale taalvergelyking, die Amerindiese taalphylum, die Indo-Pacific-taalfamilie, die verbintenis tussen die Yenisei-tale van Siberië en Na-Dene van Noord-Amerika, sowel as navorsing oor die monogenesis van taal en Proto-Sapiens. In dié verband het hy vir drie dekades met die genetikus Cavalli-Sforza en die argeoloog Colin Renfrew saamgewerk.

Pieter Uys Orchards April 2021

This article is from: