2 minute read

Sierra Popoluca

Mije-Soke

Penuties

Advertisement

Die Mije-Soke-tale (Mixe-Zoque) word in die Landengte van Tehuantepec in Meksiko gepraat, in die deelstate Chiapas, Oaxaca, Vera Cruz en Tabasco.

Die Landengte van Tehuantepec lê tussen die Golf van Campeche op die Golf van Meksiko en die Golf van Tehuantepec op die Stille Oseaan. Die landengte is ‘n breë plato met ‘n warm klimaat, waar reënwoude en moerasse in die noorde domineer terwyl die suide droër is.

Die gebied se diverse geografie sluit die Chimalapaberge, en bergreekse soos die Sierra Madre del Sur, Sierra Madre de Oaxaca en die Sierra Atravesada in, sowel as die vrugbare pleine aan die noorde. Die Papaloapan- en Coatzacoalcosriviere is die grootstes wat na die Golf van Meksiko vloei. Aan die kant van die stille Oseaan is die Mixteco, Atoyac and Tehuantepec.

Mije-Soke is ‘n lid van Penuties, ‘n Amerindiese makrophylum met ‘n besonder wye verspreiding, van die weskus van Kanada deur Kalifornië tot by die suidelike state van die VSA aan die kus van die Golf van Meksiko, en tot by Guatemala.

Proto-Mije-Soke (Proto-MS) was die taal van Amerika se heel eerste beskawing, die Olmec (c. 1400–500 C.E) wat in Veracruz en Tabasco floreer het, en imposante monumente nagelaat het.

Proto-MS het eers in Proto-Soke en Proto-Mije verdeel, en Proto-Soke was die bron van Chiapasen Oaxaca-Soke aan die een kant, en Golf-Soke aan die ander. Die epi-Olmec-tekste wat onder meer by La Mojarra gevind is, is in Soke (Zoque) geskryf.

Die taalkundige Terrence Kaufman glo dat Proto-MijeSoke by Teotihuacan (Teotiwakan) teenwoordig was, en dat Proto-MS verantwoordelik was vir baie van die eienskappe wat die Meso-Amerikaanse Sprachbund kenmerk.

Mije-Soke tale het honderde leenwoorde aan al die Meso-Amerikaanse tale voorsien, soos byvoorbeeld Pajalat (Coahuilteco), Yemé (Comecrudo), Wastekan, Otomí, Tarasko (Purépecha), Matlatzinkan, Chinantekan, Nawan (Nahuan) en Totonakan.

‘n Olmec-invloed is sedert 1,500 VHE in sentrale Meksiko waarneembaar, onder meer by Tlatilco en Chalcatzingo.

Die regering van Meksiko erken drie amptelike Mije-Soke-tale, te wete Mije (ayüük) met 190,000 sprekers, Soke met 120,000 sprekers, en die Popoluca-tale – Mije sowel as Soke – met 75,000 sprekers. Soke-tale word deur sowat 120,000 mense in Chiapas, Oaxaca en Veracruz gepraat, waarvan ongeveer 40,000 Sierra Popoluca praat.

Sierra Popoluca het 12 klinkerfoneme: /i/ /ɛ/, /ɘ/, /a/, /u/ en /ɔ/) wat as kort en lank kan verskyn, en 13 fonemiese konsonante. Sierra Popoluca is ‘n aglutinerende en polisintetiese taal wat 28 suffikse gebruik en val in die ergatief-absolute paradigma.

Bronne:

Kaufman, Terence. 2013. Olmecs, Teotihuacaners, and Toltecs: Language History and Language Contact in Meso-America. University of Pittsburgh.

Roskamp, Hans. 2016. Tarascan (P'urhépecha) Empire. In book: The Encyclopedia of Empire by John M. MacKenzie, Nigel Dalziel, Nicholas Doumanis, Michael W. Charney

Kaufman, Terence and John Justeson. 2009. Historical Linguistics And Pre-Columbian Mesoamerica. Dept of Anthropology and Linguistics, 3302 WWPH, University of Pittsburgh, Pittsburgh; Department of Anthropology, University at Albany, Albany, New York

This article is from: