24 minute read
Proto Mije Soke woorde in Meso Amerikaanse tale
Kakao: PMZ *kakawa: Mayatale /kakaw/; Nahua /kakawa/ het geen kognate in ander UtoAsteekse tale nie en kakao groei nie in die oorsprongsgebied van Nahua nie; Totonac /kakaw/; Huave /kakaw/; Purechepa /kahekua/.
Tamatie: PMZ *koya: Chol /koya/; Mam /iško:ya/; Teco /ško:ya/; Cakchiquel, Tzutujil /sko:ya/.
Advertisement
Patat: PMZ *mǝne: Totonac /manta/; Jicaque /mina/; Xinca /mula/; Chinantec /mɨ/; Cuicatec /mi’i/.
Papaja: Copainala Zoque ʔotso; Xinca /uĉun/; Nahua /oĉonih-tli/; Ixcatec /tYuĉu/.
Guava: Sierra Popoluca (Zoque) pátaŋ; Tzeltal /páta/; Tzotzil /póto/; klem op eerste lettergreep ongewoon vir Mayatale.
Wierook: PMZ *po'mV; Mayan /po'm/; Xinca /pu:mu/; Totonac /pu˚m/; Tequistlatec /boma/; Huave /pom/.
Hond: PMZ *ʔukA, PMi *ʔok; Yucatec /ok/ 'hond' kalenderdag; Huastec /ok/ vos; Kanjobalan Mayatale /ʔoq/ 'coyote',
By, Wespe: PMZ *ʔakaw; Sierra Popoluca (Zoque) /ʔokwoŋ/; Huastec /ʔokow/; Tzeltal, Tzotzil, Tojolabal /ʔáko/; Mixtec /yoko/.
Ou man: PMi *naʔwa(y); Huave /neawǝneay/ towenaar; Nahua /nawal/ towenaar, vormwisselaar, alter ego, /nanawatia/ om jouself in ‘n dier te verander; Proto-ChiapanecMangue /*nu-hwa/ towenaar.
Bronne:
Cacao: How a Single Word Holds the Key to Understanding the Mesoamerican Past http://nahuatlstudies.blogspot.com/2015/01/cacao-how-contested-history-of-single.html
Kaufman, Terrence and John Justeson. Epi-Olmec. In: The Ancient Languages of Asia and the Americas. Edited by Roger D. Woodard. Cambridge University Press 978-0-521-68494-1 First published 2008
Chibcha-Paez
Chibcha
Purépecha (Tarascan) het sowat 170,000 sprekers, en word in die deelstaat Michoacán in Meksiko gepraat. Dit was die hooftaal van die Tarasco-beskawing in die tyd van die Asteke en die Maya (circa 1400–1521). Uit die hoofstad Tzintzúntzan het die staat ‘n gebied van meer as 75,000 vk kilometer beheer.
Michoacán is ‘n land van dennewoude, mere, riviere en watervalle. Meksiko se twee grootste riviere, die Lerma en die Balsas, vloei daardeur. Zirahuénmeer beslaan 615 km2 en Pátzcuaro het ‘n oppervlak van1,525 km2 met die eilande Yunuén, La Pacanda, Tecuén, Jarácuaro, Urandén en Carián.
Die hartland van die taal is rondom Pátzcuaro-meer, maar die groter deel van die sprekers woon in die westerse sierra in landelike gebiede rondom stede soos Zamora, Los Reyes de Salgado, Paracho de Verduzco, en Pamatácuaro.
Purépecha is een van die min tale in Meso-Amerika sonder ‘n fonemiese stembandklapper, en met geen laterale klanke nie, hoewel jonger sprekers die retrofleksiewe /ɽ/ met die Spaanse /l/ vervang.
Tesame met die voorvermelde /l/ is daar 23 konsonante, hoewel /x/ net aan die begin, en /ɽ/ net in die middel van ‘n woord verskyn. Die ses klinkers is /e/, /i/, /ɨ ( ï )/, /u/, /o/ en /ɑ/.
Purépecha is ‘n nominatief-akkusatiewe en aglutinerende taal met volop voorbeelde van fusie (infleksie), en gebruik sowat 160 suffikse. In die werkwood is daar 13 aspekte en ses modaliteite. Beide grammatiese naamvalle en agtersetsels word gebruik. Woordorde is vry maar SVO en SOV kom die meeste voor.
Hoewel die taal twee eienskappe daarmee deel, vorm Purépecha nie deel van die Meso-Amerikaanse Sprachbund nie. Net die vigesimale telwoordstelsel skakel in by die Sprachbund. Uit dertien wydverspreide metaforiese uitdrukkings het Purépecha net twee: die asssosiasie ‘rand’ met ‘mond, lip’, en ‘wakker’ met ‘lewendig.’ Geneties is dit ver verwyderd van die ander lede van die Sprachbund, wat uit Oto-Mangue, MijeSoqe-, Totonac-, Nahuatl- en Mayatale bestaan. Dit is lid van die Chibchan-Paezan-makrofamilie wat in Nicaragua en Colombia aangetref word.
Hulle kennis van metaalwerk, pottebakkery, die ontwerp van hulle implemente en wonings en die aard van die bouwerk by Tzintzuntzan maak dit waarskynlik dat hulle per boot uit Suid-Amerika gekom het, tot by die mond van die Balsasrivier, en vandaar die binneland ingetrek het.
Daar is ‘n Purépecha-tydskrif, verskeie koerante het afdelings in die taal, en kerkdienste word daarin aangebied. Die musiek van hierdie taal is baie gewild in die res van Meksiko.
Bronne:
Malmström, Vincent H. 1995. Geographical Origins Of The Tarascans.
Chamoreau, C. in press. Purepecha: a non-Mesoamerican language in Mesoamerica. Søren Wichmann (ed.) The Languages of Middle America: A Comprehensive Guide. Berlin: Mouton de Gruyter.
Die Staat van Tarasco
Die Land van Tzintzuntzan (Iréchecua Tzintzuntzáni) was die koninkryk van die Purépecha wat min of meer die gebied van die Meksikaanse deelstaat Michoacán, en dele van Jalisco en Guanajuato beslaan het. Dis in die vroeë 14de eeu gestig en was die tweede grootste staat ten tye van die Spaanse verowering in 1530.
Hierdie hoogliggende vulkaniese streek behels die westerse deel van die Meksikaanse Mesa Central tussen die Lerma- en Balsasriviere. Dit sluit matige, subtropiese en aan die kus, tropiese klimaatsones in.
Die mense was hoofsaklik Purépecha maar het ook ander etniese groepe soos die Nahua, Otomi, Matlazincas, Tecos, Chontales en Chichimec ingesluit. Die hoofstad Tzintzuntzan op die oewer van Pátzcuaro-meer is deur Koning Pátzcuaro gestig, terwyl die grootste stad moontlik Angamuco was.
Die staat was ‘n vyand van die Asteke en het verskeie kere daarmee in konflik getree, sodat die Asteke nie na die noordweste kon uitbrei nie. In die 1470s het die Asteke onder Axayacatl ‘n poging aangewend om die staat se kerngebied binne te val, maar is verslaan.
Van 1480 af het die Asteekse koning Ahuitzotl die konflik hernu en groepe soos die Matlatzincas, Chontales, en Cuitlatecs aangemoedig om Iréchecua Tzintzuntzáni aan te val, maar Koning Zuangua het al die aanvalle afgeweer. In 1530 is die staat deur die Spanjaarde oorgeneem.
In 1536 is Vasco de Quiroga as Biskop van Michoacán aangestel. Hy het die res van sy lewe in Michoacán gewerk as beskermheer van die mense, onder wie hy as die beminde Tata Vasco bekend staan.
Die Relación de Michoacánis rondom 1540 deur die Fransiskaanse priester Fray Jeronimo de Acalá saamgestel; die werk bevat narratiewe van edeles van die staat, sowel as dele van die “amptelike geskiedenis van Tarasco”. Dit fokus op geskiedenis en op die mense se religieuse tradisie.
Yuta-Nawan
Sentraal-Amerind
Sentraal-Amerind se drie takke is Kiowa-Tanoan, Oto-Mangue en Yuta-Nawan (Uto-Aztecan). Die laasgenoemde familie is een van die grootstes in die Amerikas in terme van sprekers, tale en geografie. Vanaf Idaho (Shoshone) tot in El Salvador (Pipil) is daar meer as 60 tale en sowat twee miljoen sprekers.
Die Vallei van Meksiko is ‘n hooglandplato in sentrale Meksiko omring deur berge en vulkane. Dis ‘n wieg van beskawing waar kulture soos Teotihuacan en die Toltecs floreer het. Die vallei in geheel word soms die Kom van Meksiko genoem, terwyl die Kom van Meksiko meer spesifiek na die streek rondom die stad Meksiko verwys.
Vanaf hulle oorspong in die noorde, het die Nahuatl-stamme die Vallei van Meksiko soos volg bewoon: Die Xochimilca het hulle rondom 900 HE in Cuahilama gevestig. Die tweede was die Chalca wat sowat 25 km oos van Tenochtitlán gaan woon het. Laat in die 12de of vroeg in die 13de eeu het die Tepaneca hulle by Azcapotzalco aan die noordweskus van die Texcoco-meer gevestig.
Die vierde, Acolhua, het hulle aan die noordooskus van die meer gevestig. Die Tlahuica was die vyfde groep, en hulle het die stede Cuauhnahuac (hedendaagse Cuernavaca), en Huaxtepec suid van die meer gestig. Die Tlaxcalan het in die ooste van die Vallei van Meksiko gaan woon waar hulle die stad Tlaxcala gestig het.
Die naam Meksiko kom van die Mēxihco [meːˈʃiʔko], die sewende en laaste groep wat die meesters van die Ryk van die Asteke geword het. Hulle ander name was Culhua-Mexica en Tenochca, vernoem na Tenoch wat Tenochtitlan rondom 1325 op ‘n eiland in die Texcoco-meer gestig het.
Tydens die 15de en 16de eeue het sprekers van Nahuatl oor die hele Meso-Amerika versprei onder die Asteekse Ryk. Na die Spaanse oorname is die taal in ‘n Latynse alfabet gedruk en geskryf. Klassieke Nahuatl is regoor Meksiko deur die Spanjaarde as administratiewe taal ingespan.
Vandag woon die grooste konsentrasie Nahua(tl)sprekers in Puebla, Veracruz, Hidalgo, San Luis Potosí en Guerrero.
Die /tɬ/-foneem van Klassieke Nahuatl het in óf ‘n /t/ verander soos in die dialek van die Landengte óf in /l/ in die dialek van Pómaro, Michoacán. Sommige moderne dialekte het foneme soos /b, d, ɡ, f/ by Spaans geleen.
Al die tale van Sentraal-Meksiko - met inbegrip van Nahuatl - bevat leenwoorde uit Mije-Soke. Voor die jaar 500 VHE moes daar al sprekers van Mije-Soketale in die Vallei van Meksiko gewoon het.
Nahuatl, wat vanaf 800 HE uit die Vallei begin versprei het, het toe reeds ‘n aansienlike aantal leenwoorde uit Mije-Soke gehad.
Die werkwoordstam kry prefikse wat die persoon van die onderwerp en die persoon en getal van die direkte en indirekte voorwerp merk, terwyl die suffikse aspek, tyd, modaliteit en onderwerpgetal aandui. Twee aspekte bestaan: perfektum en imperfektum, sowel as progressief en gewoontelik in sommige dialekte. So ook die optatiewe en prohibitiewe modaliteite.
Die Mije-Soke-tale beskik oor al die strukturele eienskappe wat deur Nahuatl aangeneem is, en Nahuatl het beslis een grammatiese morfeem, en morfologiese en sintaktiese patrone aan Nahuatl oorgedra.
Nahuatl het ‘n vigesimal (basis-20) telwoordstelsel. Die basiswaardes is cempoalli (1 × 20), centzontli (1 × 400), cenxiquipilli (1 × 8,000), cempoalxiquipilli (1 × 20 × 8,000 = 160,000), centzonxiquipilli (1 × 400 × 8,000 = 3,200,000). Die ce(n/m) prefiks staan vir "een" (soos in "een honderd" en "een duisend").
Meksikaanse Spaans gebruik talle Nahua-leenwoorde, veral op die terrein van diername, plante, groente, vrugte, kos en drankies. Die stel affrikate sluit in [ts] en [tɬ] wat as ⟨tz⟩ en ⟨tl⟩ geskryf word, soos /coatzacoalquense/ [koatsakoalˈkense] (‘van Coatzacoalcos af’), tlapalería [tɬapaleˈ ɾia] ('hardeware winkel’). Selfs woorde van Latynse of Griekse oorsprong met ⟨tl⟩, soos /Atlántico/ en /atleta/, word uitgespreek:[aˈtɬãntiko], [aˈtɬeta].
Bron:
Van der Hulst, Harry, Keren Rice en Leo Wetzels. The Languages of Middle America.
Keresiouan
Almosan-Keresiouan
Cherokee (ᏣᎳᎩ) word in Noord-Carolina, Arkansas en Oklahoma gepraat, deur net ongeveer 1,500 mense uit ‘n groep van 378, 000. Cherokee (ᏣᎳᎩ ᎦᏬᏂᎯᏍᏗ, Tsalagi Gawonihisdi [dʒalaˈ ɡî ɡawónihisˈdî]) is ‘n taal wat naby aan sy einde is, in weerwil van pogings om dit te red. In 2019 het die Driekamerraad van Cherokeestamme ‘n noodtoestand oor die stand van die taal afgekondig.
Cherokee is die inheemse taal van die VSA met die grootste korpus gepubliseerde werke. Daaronder is ‘n grammatika, woordeboeke, Nuwe Testament en Psalms. Die taal het ook sy eie koerant, Cherokee Phoenix, gehad. Twee hoofdialekte bestaan: Oostelik (Kituwa) in The Qualla, ‘n deel van Noord-Carolina, en Westelik (Otali) in Oklahoma en Noord-Carolina.
Cherokee behoort tot die Iroquois-taalfamilie, wat Mohawk, Oneida, Onondaga, Cayuga, Seneca en Tuskarora insluit. (Hiawatha was ‘n Mohawkleier, en die sanger-liedjieskrywer Robbie Robertson van The Band is Mohawk).
Die Iroquois-tale is op hulle beurt weer deel van Keresiouan, wat eindelik deel uitmaak van Almosan-Keresiouan. Soos ander Iroquoistale, het Cherokee nie die labiale foneme /p, b, f, v/ nie; /m/ bestaan wel maar is raar. Die taal se konsonant-inventaris is minimalisties.
Cherokee het sy eie alfabet wat deur Sequoyah (1776–1843) ontwikkel is. Dié skryfwyse wat uit simbole vir 85 lettergrepe bestaan, is in 1825 deur die nasie aanvaar en het gehelp om die Cherokee in ‘n kort tydjie geletterd te maak. Dis ook in die tweetalige koerant, The Cherokee Phoenix gebruik.
Sequoyah se alfabet word steeds gebruik en is te siene op geboue en padtekens in die Cherokee Nation in noordoos-Oklahoma.
Keresiouan
Almosan-Keresiouan
Die Lakota, wat ook as Teton Sioux bekend staan, is een van drie hoofgroepe van die Sioux. Hulle praat Lakȟótiyapi – die Lakotataal, die mees westelike van die drie nouverwante tale wat die Siouan taalfamilie uitmaak. Die name Teton of Tetuwan is afgelei van die Lakota-woord thítȟuŋwaŋ, waarvan die betekenis nie duidelik is nie. Ander benaminge sluit in: Tinton, Tindaw, Atintans, en Teetonwan, terwyl vroeë Franse rekords na hulle verwys as Sioux des prairies, Sioux occidentauxen Sioux nomades.
By die 2010-sensus was daar meer as 170,000 Lakota waarvan net 2,000 nog die taal praat. Vandag woon die Lakota verspreid oor reservate in Noord- en Suid-Dakota, Montana en in Saskatchewan en Manitoba in Kanada. Hulle woon ook in Rapid City en in dorpe in die Black Hills-gebied. Die westelike dialek van Dakota (Dakȟótiyapi) is wedersyds verstaanbaar met Lakota, maar het net sowat 200 sprekers oor.
The Black Hills, ‘n afgesonderde bergreeks wat bo die Groot Vlaktes van Noord-Amerika uittroon in Wyoming en South Dakota, is ‘n heilige plek vir die Lakota. Die hoogste berg is Black Elk Peak van 7,244 voet (2,208 m) en die area sluit Black Hills Nasionale Woud in. Die naam "Black Hills" is ‘n vertaling van Lakota Pahá Sápa, omdat die berge donker lyk van ‘n afstand af, oënskynlik omdat hulle hange vol immergroen bome is.
Lakotaleiers van formaat sluit in Tȟatȟáŋka Íyotake (Sitting Bull) wat as die grootste Sioux-leier van almal beskou word. Dit was hy wat Genl Custer by Little Big Horn verslaan het.
Heȟáka Sápa (Black Elk ) is beroemd vir die boeke wat hy aan Amerikaanse etnograwe dikteer het. Hy het die sewe heilige rites van die Sioux aan Joseph Epes Brown meegedeel wat dit in die boek The Sacred Pipe gepubliseer het. Die etnoloog John Neihardt het sy visioene, religieuse oortuigings en ervarings, in die 1932 boek Black Elk Speaksuiteengesit.
Tȟašúŋke Witkó (Crazy Horse) was ‘n kryger van die Oglala Lakota wat in baie gevegte teen die Verenigde State betrokke was: Die Slag van Platte Bridge, die Slag van die Honderd in die Hand, die Wakis Slag en die Groot Sioux Oorlog. In 1982 het die Verenigde State se posdiens ‘n seël ter ere van Crazy Horse uitgegee.
Lakota beskik oor sowat dertig fonemiese konsonante en die klinkers /i e a o u/ plus drie nasale klinkers, /ĩ ã ũ/ (foneties [ɪ ə ʊ]). Die nasale klinkers is eers as /į ą ų/ geskryf, en word deesdae met ‘n volgende /ƞ, ŋ of n/ aangedui.
Werkwoorde kan elemente soos bywoorde en byvoeglike naamwoorde inkorporeer. Die woordorde is SOV maar nie rigied nie. Lakota gebruik agtersetsels, soos byvoorbeeld /mas'óphiye él/ wat letterlik as “winkel by” beskou kan word, en /thípi=kiŋ ókšaŋ/ "rondom die huis" (letterlik ‘huis rondom’. Bywoorde of agtersetselfrases kan wyse, plek en rede beskryf.
Lakota is ‘n lid van Siouan, en hoër op, van Siouan-Yuchi, wat deel van die breër Keresiouan-groep is. Die groter familie word Almosan-Keresiouan genoem.
Bronne:
https://www.crystalinks.com/sioux.html
https://omniglot.com/language/phrases/lakota.php
Proto-Amerind, haar dogters en kleindogters
Die kern van hierdie bespreking is ‘n 2008-essay deur Larry Lepionka, “Historical interpretations of geographical distributions of Amerind subfamilies”, uit In Hot Pursuit of Language in Prehistory: Essays in the four fields of anthropology, *1 aangevul met addisionele data wat sedertdien beskikbaar geword het.
Lepionka se analise is gebaseer op Joseph Greenberg en Merritt Ruhlen se baanbrekerswerke van 1987 en 2007, met verwysing na Greenberg se elf taalfamilies van Amerind (wat Eskimo-Aleut en die Na-Dene tale uitsluit). Die toepaslike doelwit van so ‘n analise is om hipotese voor te stel wat direk aan die linguïstiese bewyse getoets kan word, of indirek aan argeologiese bewyse.
Lepionka neem die elf families in oënskou en stel dieper verwantskappe voor om die vroegste vier phylums te identifiseer. Die onderliggende konsep van die analise berus op die feit dat ruimtelike verspreiding op sigself artefakte van die geskiedenis is, en daarom aspekte van die geskiedenis kan onthul.
Die kontras tussen ‘n gekonsentreerde en verstrooide verspreiding van taalfamilies dra betekenis. Binne ‘n gegewe geografiese ruimte wat deur twee of meer taalfamilies bewoon word, word die groep met die aaneenlopende verspreiding as ‘n latere aankoms beskou, terwyl die groep wat uit geïsoleerde eilande bestaan, ouer is. Die fragmentering van die ouer familie is ‘n resultaat van die inkoms van die latere. En diversiteit is groter in die streek wat die langste bewoon word.
Genetiese studies het bevind dat die pre-koloniale bevolkings van die Amerikas – van Kanada tot by die suidelike punt van Chile – deur drie migrasies geplant is. Die meerderheid stam af van ‘n enkele groep Eerste Amerikaanse Migrante wat vanaf Beringia gekom het, toe dit nog ‘n landbrug tussen Asië en Alaska gevorm het.
Deur na variasies in DNA te kyk, is daar bevind dat hoewel die grootste deel van die bevolking van die Amerikas uit die eerste migrasie ontstaan het, twee latere migrasies ook belangrike genetiese bydraes gelewer het.*2 (Nature).
Die tweede en derde migrasies se impak is beperk tot Noord-Amerika, maar selfs die noordelike bevolkings het die grootste deel van hulle genoom van die Eerste Amerikaanse Migrasie geërf. Dit bevestig die feit dat die mense van die twee latere migrasies uit Asië met die Eerste Amerikaners vermeng het.
Veertienduisend jaar gelede het daar ‘n poort tussen die Kontinentale (Laurentiese) en die Cordilleraysplate van Noord-Amerika oopgegaan weens verwarming. Mense het dié poort betree en na die suide gevolg, totdat hulle die suidelike rand van die ysplaat bereik het.
Aan die linkerkant was die wuiwende grasvelde van die ooste en aan die regterkant was die Rotsgebergte (Rocky Mountains) wat steeds met ys bedek was. Na die ooste was daar een rivier na die ander en volop wild. Dis nie moeilik om te raai watter rigting die eerste migrante sou kies nie. Soos die migrante se getalle toeneem, sou hulle al hoe verder oos en suid beweeg, en in die Amerikaanse suidweste ‘n woudland-paradys aantref, vol eetbare plante en troppe wild.
Dit sluit nie die moontlikheid uit dat sommige van die vroegste migrante die reis na die suide voortgesit het nie, of dat ander, toe hulle ver genoeg suid beweeg het, die berge na Kalifornië oorgesteek het nie. Die datums uit Suid-Amerika suggereer dat die vroegste mense daar nie lank in die noorde getalm het nie. Dié groepie – of twee groepies - jagter-versamelaars aan die voorpunt moes hulle verkyk het aan die landskap soos dit warmer en groener en wildryker word.
Die Pioniers
Die een groepie was fisies toegerus vir ‘n koue klimaat, en om hoog bo seespieël te floreer. Die ander was met eienskappe toegerus wat ideaal is vir ‘n warm klimaat in tropiese reënwoude en savanna.
Albei het deur Panama die suidelike kontinent in beweeg. Een van hulle het die kus na die suide gevolg, deur die teenswoordige Colombië, Ecuador, Peru en Chile. Ver in die suide – Patagonië of die Chileense kus, kom hulle tot ruste, plant voort en vermeerder.
Andies as die eerste phylum wat Suid-Amerika betree het, kan nie betwyfel word nie. Van die suidelikste punt van die kontinent, Tierra del Fuego, deur Patagonië en die weskus van Chile tot in Peru het dié groepering aanvanklik ‘n ononderbroke strook gevorm.
Equatorial-Tucano
Die ander groep versprei al langs die kus van die Karibbiese See, van die teenswoordige Colombia na die strandmeer van Maracaibo, deur die kusstrook van Venezuela tot by die mond van die Orinocorivier. ‘n Groepie Dwarstrekkers beweeg in die riviervallei op terwyl die ander verby die Guyanas gaan op pad na die Atlantiese kus van Brasilië. Eindelik gaan die Dwarstrekkers op na die berge, en skop nes aan die oostelike hange van die Andes.
Greenberg se Equatorial-Tucanoan-phylum, as die eerste in die tropiese streek, word vandag wyd verspreid oos van die Andesgebergte aangetref. Sy verspreidingspatroon bestaan uit geïsoleerde lappies en periferale streke op die Atlantiese kus en die Karibbiese See.
Dis duidelik onderbreek deur Macro-Carib in die noorde, deur Macro-Jê in die middel en deur Macro-Pano in die suide. Aan die oostelike hange van die berge het Chibchan-Paezan en Andies dit vanaf Equador tot Bolivia onderbreek.
Ekologiese aanpassing speel ‘n belangrike rol in voorhistoriese vestiging, en Equatorial-Tucanoan wys ‘n voorliefde vir kusgebiede en riviervalleie met reënwoud soos die Orinoco- en Amasonerivier en hulle sytakke. Geen ekspansie na die weste van die Andes of na die Pampas en Patagonië het plaasgevind nie. Macro-Arawak is die groep wat die verste versprei het, lank voor Macro-Carib.
Jê-Pano-Carib
Die verspreiding van Jê-Pano-Carib is meer kompak as dié van Equatorial-Tucano. Hierdie groep is waarskynlik aangepas vir tropiese grasvelde. Macro-Jê in die ooste en sentrale dele van die kontinent omring verskeie lappies Equatorial.
Macro-Pano verskyn vanaf suidoos Brasilië tot by Paraguay en Bolivië, en vanaf die ooste van Peru in Brasilië in. Macro-Carib is versprei oor Venezuela, Guyana, Suriname en die nabygeleë dele van Brasilië, met uitlopers op die oostelinge hang van die Andes in Colombia, op die Equador-Perugrens en in die middel van Brasilië. Dit omring ook verskeie lappies Equatorial in sy verspreidingsareas.
Jê-Pano-Carib het ten koste van Equatorial-Tucanoan versprei, soos blyk uit die oorblyfsels en periferale sones van laasgenoemde. Macro-Carib moet die vroegste van die drie subgroepe wees; Jê-Pano moes daaruit voortgespruit het.
Die oorspronklike tuiste van Jê-Pano-Carib is dus waarskynlik Venezuela, Guyana of Suriname. Uitbreiding het begin met Jê se ekspansie na die suide, waar Jê-Pano van Carib begin verskil het, sodat Macro-Jê na die ooste, en Macro-Pano na die suide en weste beweeg het.
Die oorsprong van Macro-Carib kan dus in ‘n Equatorial-taal lê.
Andies
Proto-Andies het twee moontlike tuislande, Peru of suidelike Chile en Patagonië.
‘n Waarskynlike scenario vir die verspreiding van taalfamilies in Peru is die volgende: (1) Die voorouers van Andies het daardeur beweeg op pad na die suide (2) Equatorial-sprekers het van die ooste af ingekom (3) sprekers van Paezan het na Bolivië en na die noorde van Argentinië en Chile uitgebrei, en in die proses die reste van (1) en (2) geabsorbeer (4) Andiese groepe uit die suide het die Altiplano en westelike hange van die Andes betree terwyl Macro-Pano-groepe uit die Amasonevallei hulle op die oostelike hange van die Andes gevestig het.
Volgens Ruhlen mag Chibchan-Paezan ‘n hegter verbintenis met Andies as enige ander groep hê, terwyl Lepionka die moontlikheid opper dat dit uit Hokan ontstaan het, en later Hokan verplaas het.
Drie Andiese tale is steeds groot en lewenskragtig, te wete die Quechua-tale, Aymara en Mapudungun.
Die slotsom is dat Andies en Equatorial sustergroepe is wat direk van Proto-Amerindies afstam.
Chibchan-Paezan
Dié familie het waarskynlik in Meso-Amerika ontstaan, en ‘n vroeë verdeling het Proto-Paezan in Suid-Amerika afgegee.
Chibchan het drie verspreidingstreke: die suidweskus van Meksiko (Jalisco tot Michoacan), SentraalAmerika (van Honduras en El Salvador deur Panama, met ‘n deel van die Karibbiese kus en die binneland van Colombië). Dit moes aanvanklik ‘n soliede strook gewees het, wat deur die latere verspreiding van Sentraal-Amerindies en Penuties opgebreek is.
Chibchan se tuisland was waarskynlik Meksiko, en Chibchan stam volgens Lepionka uit Hokan, wat steeds ‘n teenwoordigheid op die noordelike Golfkus en Baja California handhaaf, met oorblyfseleilandjies naby die grens van Guerrero en Oaxaca, noordelike Honduras, en die Stille Oseaankus van Colombia.
Hokan is soos Chibchan deur Sentraal-Amerindies en Penuties gefragmenteer, asook deur die vroeër ekspansie van Chibchan.
Paezan se wye verspreiding, vanaf Chile en Argentinië in die suide tot by Florida in die noorde, met lappies langs die Karibbiese kus, veronderstel die kusstrook van Colombië as tuisland. Paezan se ekspansie het Equatorial opgebreek, en Paezan self is later deur die verspreiding van Macro-Carib opgebreek.
Sentraal-Amerind
Proto-Sentraal-Amerind het vermoedelik in die suidweste van die VSA of die noorde van Meksiko ontwikkel, en Sentraal-Amerind het deur Meksiko tot by die Landengte van Tehuantepec versprei, slegs onderbreek deur buiteposte van die Na-Dene-tale in die suidweste van die VSA.
Dit het Chibchan verplaas maar kon nie deur die Penutiese streke in Yucatan en Guatamala breek nie. Oorblyfsels van Hokan word rondom Sentraal-Amerindies gevind in Kalifornië, die kus van Meksiko en Texas en langs die Rio Grande, sowel as Honduras en Colombië. Dit suggereer dat Hokan ook verplaas is, en verder dat Sentraal-Amerindies uit ‘n Hokan-taal ontstaan het.
Ruhlen (2007) is van mening dat Yuto-Nawa (Uto-Asteeks) van suidelike Meksiko na die noorde versprei het. Sentraal-Amerindies se drie onderafdelings is Tano in die noorde, Yuto-Nawa) ook daar en in Meksiko, en Oto-Mangue in Meksiko. Die Yuto-Nawa-taal Nahua(tl) is Meksiko se grootste, met nagenoeg twee miljoen sprekers.
Oaxaca is die Meksikaanse provinsie met die meeste sprekers van Oto-Mangue-tale, waar die Zapotec en Mixtec-tale deur altesaam 1.5 miljoen mense gepraat word. In die sentrale state Mexico, Hidalgo en Querétaro, het Otomi en Mazahua, twee tale van die Oto-Pame-tak, saam meer as 500,000 sprekers.
Hokan het in Noord-Amerika wes van die Rotsberge ontstaan, en is aanvanklik versprei vanaf Kalifornië tot in die suide en regdeur Meso-Amerika.
Proto-Hokan wat uit Penuties ontstaan het, is die oorspronlike Wes-Amerindies. Vandag word dit gevind vanaf die noordelike, deur die sentrale tot in die suidelike dele van Kalifornië, in Baja California, Arizona, die kus van Texas en Meksiko, langs die Rio Grande, in Guerrero, Oaxaca en Chiapas, El Salvador, die noordkus van Honduras en ‘n klein enklave op die Stille Oseaankus van Colombië.
Hokan en Penuties is dus susterfamilies op dieselfde vlak.
Penuties
Penuties is die heel eerste taal van Noord-Amerika, en was in die ooste gekonsentreer. ProtoAmerind is die taal wat uit Beringia gekom het, en moet dus baie naby aan Proto-Penuties wees.
Die verspreiding van Penuties sluit in die suidoostelike VSA, vanaf die ooste van Texas tot by South Carolina, en met die Mississippivallei op tot in Missouri. Aan die weskus strek Penuties vanaf die suide van Alaska deur Kanada, Washington en Oregon tot in suidelike Kalifornië, die suidweste, klein lappies aan die ooskus van Meksiko, en ‘n strook van Tehuantepec tot in Guatemala wat die hele Yucatan-skiereiland insluit.
Sommige van die Penutiese tale in Kalifornië is meer spesifiek Golftale van die suidooste, wat selfs met die New Orleans-area verbind kan word. Die meer veraf-verwante Penutiese tale van die weskus is elk ‘n afsonderlike groep op dieselfde taksonomiese vlak as Golf- of Meksikaanse Penuties.
Almosan-Keresiouan
Almosan-Keresiouan dek die hele breedte van Noord-Amerika. Sy uitbreiding het plaasgevind in die spore van die yslaag soos dit na die noorde van Kanada teruggetrek het. Almosan-Keresiouan het vanuit die oostelike hartland van Penuties die gebiede betrek wat voorheen onder ys bedek was,.
Proto-Almosan-Keresiouan stam uit ‘n Penutiese groep wat aan die voorpunt van die noordelike migrasie gestaan het, en Proto-Almosan het geboorte geskenk aan die Mosan- en Keresiouantale. Dié migrasie het aanvanklik na die noordooste beweeg en tot by die boomlyn gevorder, die Atlantiese kusgebied gevul, en toe weswaarts deur Kanada begin beweeg. Die eerste hindernis onderweg was weer die Rotsberge, waaragter die riviere vol salm op die westelike hange gewag het. Die vallei van die Fraserrivier word tot vandag nog deur sprekers van Mosan bewoon.
By die kus het hulle die Penutiese gebied verdeel sodat Tsimshian in die noorde geïsoleer is. Die oorsteek van die berge en die verlies aan kontak met die oostelike tale was die begin van die verdeling tussen Almosan (ooste) en Mosan (weste).
Mosan-sprekers het waarskynlik die kus bereik voordat die sprekers van Na-Dene daar opgedaag het. Keresiouan het in westelike en oostelike tale verdeel, met ‘n buitepos Almosanstreek wes van die hoof- Keresiouangebied. Proto-Keresiouan het uit ‘n Almosantaal ontwikkel, heel moontlik in die omgewing van die oorsprong van die Mississippirivier. Die oostelike groep van Keresiouantale is die Iroquoistale wat van die St Lawrencevallei in die noorde deur New York tot by Virginia en SuidCarolina strek.
Lepionka bevind dus dat al elf Amerindiese taalfamilies nie onafhanklike dogtertale van ProtoAmerind is nie. Die Andiese en Equatorial-families stam direk uit Proto-Amerindies, terwyl Tucano en Macro-Carib van Equatorial af kom. Op sy beurt het Macro-Carib die Jê-Pano-groep verwek.
Sentraal-Amerindies en Chibchan stam af van Hokan, en Paezan van Chibchan. Hokan is ‘n ouer kind van Penuties, en Almosan ‘n jonger een. Die Mosan- en Keresiouantale het uit Almosan ontwikkel.
Dit laat mens met vier dogtertaalfamilies wat direk uit Proto-Amerindies stam: Penuties, Hokan, Andies en Equatorial.
Die stam T’AʔNA ~ kind / sib
Een van die bewyse in Greenberg se identifisering van die Amerindiese familie, is die woord /tana/ waarvan die algemene betekenis “kind” of “sib” is. Die stam word in al elf van Greenberg se Amerindiese familie gevind. Die rekonstruksie vir Proto-Amerind sou *t’ana wees. In Noord- en Sentraal-Amerika verskyn vorms soos tuwaana(seun), sinsin(neef), i-tsaŋa(jonk), t’ánat (kleinkind), -tsan(verkleinsuffiks), *taʔn(sib), sitona(vrou), out(dogter), tatan(ouer broer), en in Suid-Amerika, vorms soos toto (ouer broer), tini-usa (dogter), tino (kleintjie), ketun(suster), doana(skoonseun), tute(kind), dēnu(seunskind).
Dis nie net die stam wat die verbintenis tussen voorvermelde vorme aandui nie, maar ook affikse wat in spesifieke kombinasies aan die stam geheg word. Die eerste persoon *nasoos in *netankwa (skoonsuster in Proto-Algonquian), en nitari(my broer in Ipurina). Die verkleinsuffiks *sa se vorme sluit in /taŋsa/ (meisie in Macusi), /kwunasa/ (meisie in Cayuse); die ander verkleinsuffiks * -mai lewer onder meer /tani-mai/ (jonger suster in Masaca), en /nutanimi/ (my dogter, in Yavitero).
Die suffiks * -kwavir skoonfamilie bied /ategwa/ (neef in Motilon), /utsekwa/ (kleinkind in Tacana), /nekwa/ (skoonouer in Yurok), die suffiks * -ko vir ‘n ouer persoon bied /tonko/ (ouer broer in Caraho), /tūkã/ (oom aan moederskant in Biloxi), *-tuk wat ook na “kind” verwys, soos /tuktan/