2 minute read
Aymara
Aymara (Aymar aru)
Andies
Advertisement
Die Aymaratale bestaan uit Aymara van Bolivië, en Jaqaru en Kawki van Peru.
Sowat 2,5 miljoen Aymara-sprekers woon op die Altiplano, die hoë plato rondom Titicaca-meer in die suide van Peru en noordweste van Bolivië. Kleiner getalle woon in Chile en Argentinië. Die stad La Paz in Bolivië is hoofsaaklik Aymara – die voorstad El Alto word as die hoofstad van die Aymara beskou.
Die Altiplano lê tussen twee massiewe bergreekse van die Andes, op ‘n hoogte van tussen 3,800 m en 4,100 m bo seespieël. Dis die area waar die Andes op sy breedste is – na Tibet, is dit die
grootste hoogplato op aarde. Bolivië het die grootste deel daarvan, maar die plato strek verder noord na Peru en suid na Argentinië en Chile.
In Quechua word dit ‘Collao’ genoem, en in Aymara, ‘Qullaw’ , (plek van die Qolla), sedert die Inkaryk, toe die provinsie as Qollasuyu bekend gestaan het. Die Titicaca-meer wat deur Peru en Bolivië gedeel word, beslaan 8,290 km2 en het ‘n oewer van 700 km. Dis die hoogste bevaarbare meer ter wêreld.
Die twee hoofdialekte is Sentrale en Suidelike Aymara. Onder die subgroepe is die Qolla, Lupaka, Kanchi, Karanka, Kana, Pacaxe, Killaka, Ubina, Aullaga en Omasuyo.
Geen fonemiese kontras bestaan tussen sluitklanke sonder stem [p] of met stem [b]) nie, maar elkeen kan op drie maniere artikuleer word: gewoon (tenuis), met glottalisering, en geaspireerd. Aymara het ‘n alveolare/palatale kontras vir die laterale en nasale klanke, sowel as die semiklinkers (/w/ en /j/). Die drie fonemiese klinkers is /a/, /i/ en /u/ wat kort en lang variante het.
Aymara is ‘ n aglutinerende en uitsluitlik suffikserende taal, met naamwoord-, werkwood- en onafhanklike agtervoegsels. Veertien naamvalle verbuig die naamwoord. Tot nege agtereenvolgende suffikse kan aan ‘n woord geheg word, en die woordorde is SOV.
In sekere opsigte tree Aymara soos ‘n infleksionele taal op, waar die persoons- en tyds-uitgang deur ‘n enkele suffiks onderskei word. Die teenwoordige tyd en die onlangse verledetyd word as definitief beskou, terwyl die toekomstige en verre verlede as onseker beskou word.
Die Aymara-werkwoord bied ‘n indrukwekende reeks nuanses in sy uitgange, soos byvoorbeeld of die spreker ‘n aksie sien plaasvind het of nie; selfs bespiegeling kan in die werkwoord aangedui word. Verder is daar die kousatief, refleksief-resiprokaal, en vorms vir ruimtelike rigting. Die modaliteite sluit in evidensialiteit, gebeurtenis-modaliteit en imperatief.
Aymara en Quechua deel ‘n enorme leksikon, en Spaans is die vrugbaarste bron van leenwoorde in Aymara.
Die eerste Aymara-grammatika en woordeboek is in 1612 deur die Jesuïtepriester Ludovico Bertonio uitgegee.