1 minute read

Andies vs Amasonies

Anders as in Meso-Amerika, bestaan daar nie ‘n Sprachbund in Suid-Amerika wat so duidelik omskryf is as die Meso-Amerikaanse een nie.

Sowat 15 miljoen mense praat Andiese tale. Die Andiese familie het meer sprekers as al die ander Amerindiese families saam, en sluit in tale soos Aymara, Patagon, Quechua (Kechwa) en Mapudungun (Araukanies) wat in Ecuador, Peru, Bolivië, Chile en Argentinië gepraat word. Die familie word ook Hoogland- of Westerse Suid-Amerindies genoem.

Advertisement

Die kenmerkende Amerindiese N : M patroon vir die eerste en tweede persoonlike voornaamwoorde val mens dadelik op, soos Quechua noqa / qam en Mapudungun iñche / eymi. (In Eurasië is die kenmerkende patroon M : T/S).

In die werkwoord gebruik Andiese tale hoofsaaklik suffikse om die agent, pasiënt, onderwerp, voorwerp, aspek en tyd te merk, ‘n eienskap wat met Eurasiatiese groepe ooreenstem.

In die ooste van die kontinent gebruik tale soos Arawak, Macro-Jê, Carib en Tupi hoofsaaklik prefikse vir voorvermelde doeleindes. Verder beskik die tale in die Andiese groep gewoonlik oor minder klinkers maar heelwat meer konsonante as die Oosterse of Amasoniese families.

Aymara en Quechua bied ‘n interressante voorbeeld van veelvlakkige bilaterale taalkontak. Albei groepe is oorwegend SOV met nominatief-akkusatiewe instelling, en ‘n reëlmatige morfologiese struktuur wat op aglutinerende suffiksering gebou is.

Fonologies stem hulle ook ooreen, soos wat duidelik blyk wanneer die rekonstruksies van hulle prototale vergelyk word. Die foneem-inventarisse is dieselfde behalwe vir die glottale en geaspireerde konsonante in Proto-Aymara.

Quechua het meer naamwoord-uitgange en affikse om naamwoorde te skep as Aymara. By die werkwoord is die situasie omgeruil: Aymara het meer werkwoord-affikse, veral vir die ekspressie van ruimtelike kategorieë.

Op leksikale vlak deel hulle ‘n woordeskat wat teruggaan na die prototale. Meer as 20% van die gerekonstrueerde leksikon het identiese vorme, met inbegrip van kernwoorde soos /nina/ ‘vuur’, /warmi/ ‘vrou’ en /apa-/ ‘om te dra’. Mapudungun se ooreenkomste met Quechua en Aymara kom uit die verre verlede, soos die stamme /t_ʃaŋ/ ‘been’, /tapɨl‘blaar’, en /moŋkol/moŋkoʎ/ ‘rond’ aandui.

Bron:

Pache, Matthias. 2014. Lexical Evidence for Pre-Inca Language Contact of Mapudungun (Mapuche) with Quechuan and Aymaran. Universiteit Leiden. Journal of language contact 7 (2014) 345-379

This article is from: