Taal is 'n brug oor die stroom van tyd

Page 1

Taal is ’n brug oor die stroom van tyd

1


Göbekli Tepe as Rituele Sentrum van Nostraties Die Nostratiese Spraakgemeenskap in die lig van Çatalhöyük, Nevalı Çori, Karahan Tepe en Sefer Tepe

Met aantekeninge oor Taalverwantskap,Taalfamilies, Proto-Nostraties, Altaïes, Eurasiaties, Oeralies, Semities, Kartveelsen Indo-Europees in die Transkaukasus, rondom Aragats en Ararat te midde vanSevan, Urmia en Van, plus Mitanni, Urartu, en die riviere Araks, Kuma en Kura.

Pieter Uys

2


Inhoudsopgawe Göbekli Tepe

3

Taalfamilies

12

Ortografie

13

Die Nostratiese Oertaal

14

Gedig van Illich-Svitych

16

Eurasiaties

17

Simboliek

31

Aard van Nostraties

34

Rekonstruksie

34

Grafies-Analitiese Metode

37

Bibliografie

41

Internetbronne

43

Indeks

44

3


Göbekli Tepe (Naeltjie van die Wêreld), is die Turkse naam van die heuwel waar daar in 1994 ‘n oerstruktuur uit die Neolitiese tydperk ontdek is. Dis 12 km noordoos van die stad Şanlıurfa (voorheen Urfa en/of Edessa) op die Urfa-plato van die Germuş bergreeks geleë en beslaan ongeveer 10 hektaar. Twaalfduisend jaar gelede was dit ‘n waterryke streek van grasvelde, amandel-, eike- en pistachioneutbome. Die wilde einkorn, koring en gars van die streek het wilde skaap-, bok- en perdsoorte hier laat gedy.

Şanlıurfa is sowat 80 km oos van die Eufraatrivier geleë. Volgens Moslem- en Joodse tradisies, waaronder die skrywes van Flavius Josephus en Maimonides, was dié noordelike Ur die eintlike Ur Kasdīm van Vader Abraham. Die gebied het destyds as Aram Naharaim beskend gestaan – Aram van die Twee Riviere. Die ruïnes van die stad Harran wat ook ‘n verbintenis met Abraham het, lê sowat 44 km suid-oos van Şanlıurfa. Die vroegste rekords van Haran verskyn in die Ebla-tablette, c. 2300 VHE. Die name van Abraham se oupa Naḥor en sy oupagrootjie Serug is die name van stede in die geweste van Urfa: Naḫur is bekend uit Akkadiese bronne, en Serug, wat steeds bestaan as Suruç, 46 km suidwes van Urfa.

4


Haran (ḥārān; Χαῥῤάν) is waar Terah gaan woon het nadat hy uit Ur van die Chaldeërs getrek het (Genesis 11:31) en vanwaar Abraham vertrek het op pad na Kanaӓn. (Genesis 12:1 ). Dit was moontlik "die stad van Nahor" waarheen Abraham se dienaar gegaan het om ‘n vrou vir Isak te kry (Genesis 24:10). Hierheen het Jakob gekom toe hy van Esau weggevlug het (Genesis 27:43 ).

Haran verskyn die eerste keer in Oud-Babiloniese bronne as ‘n belangrike kruispad in ‘n brief gerig aan Yasmah-Addu, ‘n Assiriese amptenaar in die stad Mari (c. 1790 VHE). ‘n Ander brief vermeld Haran as ‘n gebied van die semi-nomadiese “Benjamiete.” Dit waarsku die koning van Mari teen ‘n alliansie tussen Asdi-Takim, heerser van Haran en die konings van Zalmaqum, sowel as die leiers van die Benjamiete. By die dood van Shamshi-Adad I van Assirië (c. 1815–1782 VHE) het die Ou Assiriese ryk opgebreek, wat Haran onafhanklikheid gegee het. Dit was in daardie tyd dat die mense van Terah hulle daar gevestig het (Gen. 11:25). Die naam van Terah, pa van Abraham, word met die stad Turahi op die Balikhrivier suid van Haran in verband gebring. Rondom 1,500 VHE het die Koninkryk van Mitanni sy hoogtepunt bereik, en Haran was die meeste van die tyd deel van Mitanni, die koninkryk met ‘n Horitiese bevolking en ‘n Indo-Europese heersersklas wat goeie betrekkinge met Egipte gehandhaaf het.

5


Meer as 200 gesnede klippilare kenmerk Göbekli Tepe. Die area bevat omtrent 20 ronde vloere wat uit die rotsbodem gekap is. Elke vloer het twee reuse kalksteenpilare in die middel omring deur ‘n sirkel van kleiner T-vormige pilare – die gemiddelde deursnee is sowat 10 meter. Die pilare is tot 6 m (20 voet) hoog en weeg tot 10 ton. Volgens koolstoftoetse is die boonste lae van die terrein sowat 9 000 jaar oud hoewel heelwat argeoloë meen dat die terrein tot 12 000 jaar oud kan wees. Indien wel, stem dit ooreen met die finale einde van die laaste ystydperk. Negeduisend jaar oud is ‘n millennium ouer as Jerigo wat voorheen as die oudste stad beskou is.

Göbekli Tepe was in gebruik in die vroegste fase van die Neolitiese periode, wat van 9,600 tot 7,000 VHE dateer word. In hierdie tyd het die eerste nedersettings in Wes-Asië ontstaan – dorpies met hutte van klip of kleistene en gemeenskaplike geboue. Die terrein is dus twee keer ouer as die Egiptiese en Sumeriese beskawings, ‘n feit wat alles wat ons geweet het oor die voorgeskiedenis, omverwerp. Volgens die konvensionele geskiedenis was die mens toe nog ‘n jagter-versamelaar wat nie in staat was om sulke klippilare te kerf, op te rig en versier nie. Die ou stadsentrum van Urfa is op ‘n neolitiese terrein gebou. Ander terreine op die Haranplein sluit in Karahan Tepe, Ayanlar Höyük, Şanlıurfa-Yeni Mahalle, Sefer Tepe, Hamzan Tepe, Harbetsuvan Tepesi, Kurt Tepesi en Taşlı Tepe. Verder is daar klein satellietterreine rondom die hoof-sentra Karahan Tepe, Sefer Tepe en Ayanlar Höyük. Die meeste van die voorvermelde het dieselfde T-vormige pilare, ommuurde sirkels en relief-afbeeldings.

6


Bekende feite is dat die gebied die oorsprong van ‘n belangrike koringspesie is en dat bokke heel eerste hier makgemaak is. Geen teken van wonings, pottebakkery, metaal-implemente, landbou of veeteelt is in die onmiddelike omgewing gevind nie, wat natuurlik die raaisel verdiep. Hoe kon jagter-versamelaars so ‘n reuse monument bou? Boonop wil dit voorkom asof die hele terrein teen sowat 8 000VHE opsetlik begrawe is, maar dat die grootste sirkels reeds in die vroeë 9de millennium met grond bedek is. Die vreemdste van alles is dat die strukture in die oudste, onderste lae meer gesofistikeerd as in die boonste, jonger lae is.

Die simboliek is ook enigmaties; die pilaargravures bestaan hoofsaaklik uit abstrakte simbole en roofdiere sowel as giftige insekte. Geen ooreenkoms bestaan met die ouer en pragtige paleolitiese rotstekeninge van bv. aurochs, bisons, wollerige renoster of mammoete wat in Europese grotte soos Altamira of Lascaux voorkom nie. Göbekli Tepe moes ‘n plek van pelgrimstog gewees het, ‘n katedraal aan die hart van ‘n oer-oue godsdiens. ‘n Klippilaar van 1.92 m wat soos ‘n totempaal lyk, is in 2010 gevind. Drie figure verskyn daarop, ‘n beer, ‘n mens en ‘n derde wat weens skade nie uitgeken kan word nie. Fragmente van ‘n soortgelyke paal is voorheen op die nabygeleë terrein van Nevalı Çori gevind. Pilaar nommer 43, die Aasvoëlsteen, bevat ietwat ontstellende afbeeldings van ‘n aasvoël wat ‘n bal in sy uitgestrekte vlerk hou, sowel as van ‘n skerpioen en ‘n koplose man. 7


Şanlıurfa op die Karakoyunrivier is die hoofstad van Şanlıurfaprovinsie. Oos van die stad lê die Harranplein, en aan die noorde is die 15 km lange Germişbergreeks wat oos-wes strek en die noordelike grens van die Harranplein vorm. In die suidweste van die stad is Balıklıgöl (Die Poel van Abraham), en die Aynzelihameer.

Die terrein van Karahan Tepe in die Tektekberge tussen die Tigris- and Eufraatrivier is sowat 36 km noordoos van die ou stad Harran, 37 km oos-suidoos van Göbekli Tepe en 46 km oos-suidoos van Şanlıurfa. Dit dek ‘n gebied van ongeveer 13.23 hektaar (33 acres).

8


Boncuklu Tarla in die Dargeçit distrik van Mardinprovinsie, 300 km oos van Göbekli Tepe, is ‘n terrein van huise en tempels wat as een duisend jaar ouer as Göbekli Tepe beskou word.

9


Die Neolitiese en Chalcolitiese nedersetting Çatalhöyük lê 562 km wes van Şanlıurfa naby die Turkse stad Konya. By Çatalhöyük, wat van ongeveer 7100 VHE tot 5700 VHE in gebruik was, was daar reeds ‘n landbou- en veeteeltbedryf; die mense het skape aangehou, koring en ertjies verbou en amandels en pistachioneute by bome in die omgewing geoes. Jag was egter steeds ‘n belangrike bron van voedsel vir die gemeenskap. Çatalhöyük het tot sowat 9,000 inwoners gehad in sy bloeitydperk en dit val op dat kuns ‘n sentrale rol in die lewe van die stad gespeel het, in die vorm van muurskilderye en beelde.

10


Taalfamilies Wat beteken taalverwantskap of taalfamilie? Tale is verwant wanneer hulle ‘n gemeenskaplike oorsprong het, byvoorbeeld Engels, Duits, Afrikaans, Deens, Nederlands en Yslands. In die eerste plek moet verwante tale oor ‘n beduidende aantal verwante stam(woorde) beskik. Die stamwoorde van een taal word met die stamwoorde van ‘n ander taal vergelyk vir klankkorrespondensie en betekenis. So kan mens sien dat die Afrikaanse /d/ met die Engelse /d/ en die Duitse /t/ korrespondeer: Afr /deur/, Eng /door/, Duits / Tür/ ~ Afr /diep/, Eng /deep/, Duits /tief/ ~ Afr /doen/, Eng /do/, Duits /tun/. Proto-Germaans, wat van die 5de eeu voor tot die 5de eeu van, die huidige era in drie takke ontwikkel het (Wes-, Oos- en Noord-Germaans) is die prototaal van Afrikaans, Deens, Duits, Engels, Faroëes, Nederlands-Vlaams, Noorweegs, Sweeds en Yslands. ‘n Gesproke vorm van laatLatyn, Proto-Romaans, is die prototaal van Frans, Galisies, Italiaans, Katalaans, Portugees en Roemeens.

Klankkorrespondensies tussen verwante tale ontstaan weens klankreëls en elke taal het sy eie klankreëls in elke fase van sy geskiedenis. Tale moet dus op die korrekte manier vergelyk word, nie net volgens klanke nie maar ook ooreenkomstig historiese fonetiese verandering. Fonetiese korrespondensie in woordstamme is nie voldoende om verwantskap te bewys nie. Daar moet bewys word dat stamme nie aan lenings tussen tale toegeskryf kan word nie. Taalkundiges weet watter tipe woorde gewoonlik geleen word, en watter nie. Materiële en spirituele kultuurwoorde, soos vir kledingstukke, modes en toestelle word maklik geleen. Wat gewoonlik nooit geleen word nie, is die persoonlike voornaamwoorde soos /ek/, /jy/, /hy/, woorde vir liggaamsdele soos /oor/, /tand/, /hand/, vir natuurverskynsels soos /water/, /wind/ en werkwoorde soos /eet/ en /gaan/. Waar hierdie woorde korrespondensie toon, is die tale verwant.

11


‘n Swadeshlys is ‘n klassieke versameling van basiese konsepte vir die doeleindes van historiesekomparatiewe analise. Vertalings van die Swadeshlys in ‘n stel tale stel navorsers in staat om die onderlinge verwantskappe van daardie tale te kwantifiseer. Die lys, wat na die taalkundige Morris Swadesh vernoem is, word in leksikostatistiek en glottochronologie gebruik. Swadeshlyste verteenwoordig die mees stabiele woorde in ‘n taal, wat die minste kans staan om vervang te word. Soortgelyke lyste is deur Dolgopolsky, Lionel Bender, Winfred P. Lehmann, Don Ringe, Sergei Starostin en B. Kessler opgestel. Die Swadesh–Yakhontov-lys is ’n lys van 35 woorde binne die Swadeshlys wat as besonder stabiel beskou word:

ek

eier

son

jy

horing

maan

hierdie

begin

water

wie

oor

sout

wat

oog

klip

een

neus

wind

twee

tand

vuur

vis

tong

jaar

hond

hand

vol

luis

weet

nuut

bloed

sterf

naam

been

gee

Deur tale te vergelyk om fonetiese korrespondensie onder hulle te identifiseer – met inagneming van fonetiese reëls wat die stamme verander – kan linguïste die eienskappe van die taal van oorsprong rekonstrueer: sy foneme, sinskonstruksie, lettergreepstruktuur, klem, ensovoorts. By verlangse verwantskap waar min stamwoorde gedeel word, kan bewys van verwantskap in grammatiese elemente soos voor- en agtervoegsels gevind word, en op grond van alleenlik naamvalsuffikse, voornaamwoorde en werkwoord-morfologie bewys word. Vandat die Indo-Europese tale se moedertaal gerekonstrueer is as Proto-Indo-Europees, word die proses makliker want nou kan PIE met ander prototale soos Proto-Semities en Proto-Oeralies vergelyk word. Hoe ouer die tale, hoe nader is hulle aan mekaar. Fonetiese korrespondensies is al in honderde stamme onder tientalle tale identifiseer wat op die Nostratiese verwantskap dui. Die Nostratiese stam vir /twee/ word as *toɁa gerekonstrueer. Volgens die formule van verandering tussen Nostraties en PIE gee dit *dwehw vir Vroeë PIE en *dwō vir Laat PIE. Van PIE *dwō na Latyn /duo/, Klassieke Grieks /düо/, Sanskrit /dva/, ProtoGermaans *twō.

12


Sleutel tot Ortografie In hierdie dokument word die omvattende Megafamilies met ‘n diepte van duisende jare in vetdruk met onderstreping aangedui: Amerind, Nostraties en Dené-Sino-Kaukasies. Die name van die Makrofamilies verskyn in vetdruk, bv die lede van Nostraties: Afro-Asiaties, Eurasiaties, Kartveels, en Elamo-Drawidies. Die komponente van die bovermelde Makrofamilies verskyn in kursief, bv: Berber, Egipties, Kusities, Omoties, Semities & Tsjadies; Altaïes, Chukchi-Kamchatkan, Proto-Indo-Europees, Oeralies-Joekaghier, Nivkh (Gilyak) & Inuit-Yupik-Inangan; Georgies, Laz, Megrelies & Svan; Elamities & Proto-Drawidies. Die lede van die bovermelde komponente word onderstreep, byvoorbeeld die dogterfamilies van Altaïes en Proto-Indo-Europees: Proto-Turks, Proto-Mongools & Proto-Mantsjoe-Toengoes; Proto-Germaans, Proto-Anatolies, Proto-Indo-Iraans, Proto-Armeens, Proto-Italies, Proto-Kelties, Proto-Balto-Slawies, Proto-Togaries, ensovoorts.

13


Die Nostratiese Oertaal Die Nostratiese Hipotese is reeds in 1903 deur die Deense linguïs Holger Pedersen geopper. Die term “Nostraties” is afgelei uit Latyn nostrates “ons s’n”, en Pedersen het dit gebruik in verband met die ooreenkomste wat hy tussen Indo-Europese, Turkse en Fins-Oegriese tale waargeneem het.

Daar is ‘n verbintenis tussen die ouderdom van Göbekli Tepe en die bevindinge van die historiese linguïstiek, veral waar dit die prototaal Nostraties aangaan. In sy werk Indo-European and the Nostratic Hypothesis bespreek Allan R Bomhard die moontlike tuisland van die sprekers van Nostraties. Hy evalueer onder andere die verskillende teorieë oor die tuislande van AfroAsiaties, Elamo-Drawidies, Kartvelies, Altaïes, Proto-Indo-Europees, OeraliesJoekaghier. Daarna kyk hy na die teorieë van Aaron Dolgopolsky, John Kerns en Henrik Birnbaum oor die struktuur en datering van Nostraties.

14


Nostraties is gerekonstrueer deur die vergelyking van woorde uit ‘n groot getal tale wat uit al die dogtertaalfamilies kom. Die rekonstruksies van Allan Bomhard en Aharon Dolgopolsky en die gedeeltelike rekonstruksie van Vladislav Illič-Svityč is nie presies dieselfde nie, maar naby genoeg.

Ongeveer 15 000 jaar gelede – 13 000VHE – het die yslae begin krimp, die klimaat warmer

geword

en

seevlakke

dramaties

gestyg.

Gebiede

wat

voorheen

onbewoonbaar was, het toeganklik geword vir menslike habitasie. Bevolkingsgetalle het toegeneem en mense het in alle rigtings versprei. Permanente dorpe het ontstaan en daar is geleidelik van jag en versamel na landbou en veeteelt oorgeskakel. Die disintegrasie van die Nostratiese moedertaal het met dié ontwikkelinge gepaard gegaan soos mense al verder weg van die tuisland af beweeg het.

15


‘n Gedig in gekonstrueerde Proto-Nostraties geskryf deur die groot Nostratikus Vladislav Markovich Illich-Svitych:

Language is a ford through the river of time It leads us to the dwelling of those gone ahead But he does not arrive there Who is afraid of deep water Illich-Svitych's spelling:

K̥elHä wet̥ei ʕaK̥un kähla k̥aλai palhʌ-k̥ʌ na wetä śa da ʔa-k̥ʌ ʔeja ʔälä ja-k̥o pele t̥uba wete International Phonetic Alphabet

/KʼelHæ wetʼei ʕaKʼun kæhla/ /kʼat͡ɬai palhVkʼV na wetæ/ /ɕa da ʔakʼV ʔeja ʔælæ/ /jakʼo pele tʼuba wete/

Tongue time-of water-of path/ford gone-of dwelling-to us lead(s) he but there-to come(s) no(t) which-who fear(s) deep water

16


Allan Bomhard stem saam met John C Kerns dat die Mesolitiese kultuur sy oorsprong in die vrugbare sekelmaan in die Midde-Ooste net suid van die Kaukasus moes gehad het, en dateer die taal op tussen 15 000 en 12 000 VHE, met ander woorde 17 000 tot 14 000 jaar gelede. Dié groter tuislandgebied sluit Suid- en Oos-Anatolië, Noord-Sirië, Noord-Irak en die Transkaukasus in. Volgens Allan Bomhard is die taalfamilies wat van Nostraties afstam: Eurasiaties (Indo-Europees, Oeralies-Joekaghier, Altaïes, Chukchi-Kamchatkan, Nivkh (Gilyak), Inuit-Yupik-Inangan), Kartveels (tale van Georgië), Afro-Asiaties en ElamoDrawidies (Elamities het uitgesterf en Drawidies sluit Tamil en Telugu in), en die taal Etruskies.

Volgens Bomhard en Greenberg, sluit Nostraties die volgende families in: AfroAsiaties, Eurasiaties, Kartveels en Elamo-Drawidies. Afro-Asiaties is ‘n besonder ou en onafhanklike groep, en die eerste om van die Nostratiese spraakgemeenskap weg te breek. ‘n Oorsig van die woordeskat, voornaamwoorde en morfologiese stelsels van die Eurasiatiese tale blyk dat hulle hegter aan mekaar verwant is as wat enigeen van hulle aan Afro-Asiaties, Kartveels en ElamoDrawidies verwant is. In die voornaamwoordstelsel vind Kartveels aansluiting by Eurasiaties, maar sy gebruik van voorvoegsels plaas hom nader aan Afro-Asiaties. Elamo-Drawidies se naamwoordverbuiging en werkwoordvervoeging stem ook baie met dié van Eurasiaties ooreen.

17


Die Eurasiatiese familie word gekenmerk deur ‘n soortgelyke eerste- en tweedepersoon-voornaamwoordstelsel. Die eerste is op M gebaseer, en die tweede op T. Byvoorbeeld Engels /me/ en /thee/, Spaans /me/ en /te/, Fins /minӓ/ en /te/.

Een van die stamme wat regdeur Eurasiaties bestaan, is woorde vir “roep”, “praat” of “tong”: Proto-Indo-Europees *gal /roep/, Proto-Oeralies *keele /tong/," Proto-Altaïes *khӓӓlӓ /tong, praat/, Kamchadal kel /gil/ Proto-Eskimo *kələɣ /vertel/.

18


Die feit dat Göbekli Tepe in sowat 8,000 VHE verlaat en met grond en gruis bedek is, moet ‘n rol speel in die gevolglike verspreiding van die dogtertale. Lank voor daardie datum het ‘n deel van die Afro-Asiatiese dialekgroep (later Semities, Berber, Kusities, Tsjadies en Omoties) weggebreek.

Die Semitiese tale soos Akkadies en Eblaïeties het in die vrugbare sekelmaan ontwikkel, Arabies in die Arabiese Skiereiland, terwyl die taal Ge’ez in Ethiopië vorm aangeneem het. Ou Suid-Arabies word steeds in suidelike dele van die Skiereiland en op die eiland Sokotra gepraat. Berber en Egipties het Afrika waarskynlik deur die Sinaï Skiereiland betree, terwyl Kusities, Omoties en Tsjadies waarskynlik oor die Bab elMandeb-straat die Horing van Afrika binnegegaan het. Tsjadies sluit 150 tale van Nigerië, Niger, Tsjaad, Sentraal Afrikaanse Republiek en Kameroen in, waarvan Hausa die grootste is. Die vier groepe Omotiese tale (Ta-Ne, Dizoid, Mao en Aroid) word in suidwestelike Ethiopië gepraat. Die grootste Kusitiese tale is Oromo, Somali, Beja, Afar, Saho en Sidamo, en tale van die familie word in Djibouti, Eritrea, Ethiopië, Somalia, Somaliland, Kenya en Tanzanië gepraat.

19


Volgens ‘n Bayesiese filogenetiese berekening, het Proto-Semities rondom 6,000 jaar gelede in Sirië ontstaan, terwyl Ethio-semities rondom 3000 jaar gelede in ‘n enkele migrasie uit die Arabiese Skiereiland oor die Rooi See sy beslag gekry het.

Eurasiaties (Proto-Indo-Europees, Inuit-Yupik-Inangan, Chukotko-Kamchatkan, Oeralies–Joekaghier, Altaïes (Turks, Mongolies, Toengoesies, Koreaans en Japanees) en Nivkh (Gilyak)) het Sentraal-Asië teen ongeveer 9,000 VHE bereik. Dié datum loop die einde van Göbekli Tepe met sowat een millennium vooruit. Inuit-Yupik-Inangan het eindelik oor die noorde van Noord-Amerika versprei en Groenland gehaal.

20


Oeralies het na die weste (Fins, Estnies) en noorde uitgebrei (Oedmoert, Komi, Mordvin, Mari), terwyl Hongaars, Khanty en Mansi die sentrale gebiede bewoon het, en Hongaars in historiese tye van die Volga-kom na Europa verskuif het. Die familie bestaan uit 38 tale wat deur sowat 26 miljoen mense gepraat word en as volg onderverdeel word:

Samoyed Oegries: Hongaars (Magjar), Ob-Oegries: Khanty en Mansi Finno-Permies: Udmurt, Komi Finno-Volga: Mari, Mordvin (Erzya en Moksha) Finno-Saami: Fins, Estnies, Karelies, Livonies, Saami (Lapp).

21


Altaïes bestaan uit sowat 70 tale wat van oostelike Europa tot by die Arktiese see en die Stille Oseaan gepraat word. Dit sluit in: Japanees Koreaans Mongools Turks Toengoes

Strukturele ooreenkomste tusen Altaïes en Oeralies is die uitsluitlike gebruik van suffikse, die afwesigheid van geslags-aanduiding en vokaalharmonie. Vokaalharmonie beteken dat die klinker/s in die suffiks/e aan dieselfde klas behoort as die klinkers in die woordstam. Dus beskik alle suffikse oor twee vorme. Dikwels is daar ook neutrale klinkers wat in beide gevalle gebruik kan word.

22


Proto-Indo-Europees en Etruskies het nie die Eurasiatiese trek na die noorde meegemaak nie. Dis nie duidelik waar Etruskies vertoef het in die jare voordat die taal sy verskyning rondom die 7de eeu VHE in Italië gemaak het nie. Proto-Indo-Europees het as eenheid op die Armeense Hoogland vertoef, totdat Proto-Anatolies rondom 3,500 VHE die geskiedenis betree het in die vorm van Hetieties (Nesili), Lidies, Luwies, Karies en Palaïes. Daarna het die Proto-Togariese groep na die Ooste vertrek en hulle in die Tarim-kom van Xinjiang gevestig.

Bomhard se deeglike analise los ‘n geheim op – die feit dat Proto-Indo-Europees in fonologie en woordeskat met Afro-Asiaties (veral Semities) ooreenstem, maar met die tale van die koue noorde (Oeralies-Joekaghir tot Inuit-Yupik-Inangan) in sintaks en morfologie. Dis presies wat ‘n mens sou verwag indien die sprekers van ProtoIndo-Europees op die Armeense Hoogland gebly het, terwyl Afro-Asiaties begin verbrokkel het maar die sprekers van die Semitiese subgroep in noordelike Mesopotamië agtergebly het. 23


Dit verklaar die gedeelde woordeskat onder Proto-Semities, PIE en Proto-Karvelies , bv die woorde vir wyn, landerye, gewasse, skape, beeste en bokke. Die gedeelde woorde vir “ster” en “sewe” dui moontlik op ‘n eenvormige ideologie of religie. Intussen het die noordelike Eurasiatiese groep in ‘n radikaal anderse omgewing ontwikkel, waar jag en versamel die leefwyse was. Eurasiaties se gedeelde woordeskat met Indo-Europees dateer terug na ‘n pre-landbou-veeteelt periode.

ქართველური ენები Die sprekers van Proto-Kartveels het nie ver gereis nie, en hulle in die teenswoordige Georgië gevestig (Georgies, Megrelies, Svan en Laz). Hierdie groep was vir ‘n lang tydperk in kontak met Proto-Semities en Proto-Indo-Europees, wat waarneembaar is in die fonologie en die leenwoorde tussen die drie families.

24


Die datum vir die ontstaan van Elamo-Drawidies word op 7,000 tot 8,000 VHE geskat. Die Elamiete het ‘n magtige koninkryk in suid-oos Iran gevorm, met stede soos Ahwaz en Susa, en ‘n belangrike rol in Mesopotamië gespeel (Bybelse verwysing in Genesis 14). Elamities is tot sowat 300 VHE gepraat. Die Drawidiese groep het hulle eindelik in die Indiese subkontinent gevestig (vandag is Brahui in Pakistan te vinde, en Tamil, Telugu, Kannada en ander in die suidelike dele van die Indiese subkontinent).

Heelwat later is die Elamo-Drawidiese roete na die ooste deur ‘n Indo-Europese groep, die Indo-Iraanse familie, gevolg, wat ook na Sentraal-Asië en Afghanistan uitgebrei het. Iraanse tale het voorheen wyd verspreid vanaf die Oekraïene tot by die grense van China voorgekom, maar is in historiese tye deur Turkse tale verdring, behalwe in Afghanistan en Tajikistan.

25


Die Persiese taal het Elamities in Iran teen nagenoeg 300 VHE vervang. Koerdies van suid-oostelike Turkye, noordelike Irak en die noord-westelike dele van Iran is ook ‘n Iraanse taal, sowel as die Ossetiese tale Iron en Digoron waarvan die sprekers in historiese tye ‘n plek in die noordelike Kaukasus beklee het voor en tydens die bestaan van die Alaniese Ryk (9de tot 12de eeu nC).

Die vroegste verskyning van die Indo-Ariese groep was in die Koninkryk van Mitanni (Hanigalbat) van c 1600 tot 1260 VHE, waar Indo-Ariese name en perderuitertegnologie aan die lig gekom het. Dit veronderstel dat ‘n Indo-Ariese elite oor die Horitiese bevolking van Mitanni geheers het. In ‘n verdrag tussen die Konings Suppiluliumas van Hatti (Hetiete) en Shattiwaza van Mitanni, (c. 1380 VHE), word na die Hindoe-gode Mitra, Varuna, Indra, en die Nasatyas verwys.

26


Vediese Sanskrit is die taal van die Rig-Veda wat van die tweede millennium VHE af deur mondelinge oordrag bewaar is. Vediese Sanskrit het in Klassieke Sanskrit ontwikkel, en ‘n enorme literatuur opgelewer waaronder Hindoe, Boedhhistiese en Jain-geskrifte. Pāṇini (Devanagari: पाणिनि ) was 'n Sanskrit filoloog en grammatikus in Indië tussen die 6de en 4de eeu VHE. Sedert die ontdekking en publikasie van sy werk deur Europese geleerdes in die 19de eeu, word Pāṇini as die ‘eerste beskrywende linguïs’ en die’ vader van linguïstiek’ beskou. Pāṇini se beroemde Aṣṭādhyāyī is 'n verhandeling oor Sanskrit grammatika wat uit 3,959 verse of reels oor taalkunde, sintaks en semantiek bestaan. Sy aforistiese teks het tot verskeie kommentare gelei waarvan Patanjali se Mahābhāṣya die beroemdste is. Die dogtertale soos Bengali, Assamees, Kashmiri, Rajasthani, Sindhi, Panjabi, Gujarati, Marathi, Oerdoe, Sinhalees en Odia het honderde miljoene sprekers in Indië, Pakistan, Sri Lanka en Bangla-Desh.

Die Altaïese makrofamilie (Mongools, Turks, Toengoes, Koreaans, Japanees, Ainoe) moes ook op ‘n vroeë stadium na Oos-Asië en die Verre-Ooste beweeg het, maar die Mongoliese en Turkse families het eers laat in historiese tye hulle verskyning gemaak, toe die Turkse tale die Iraanse tale in die teenswoordige Azerbaijan, Kazakhstan, Turkmenistan en Uzbekistan verplaas het. Die meerderheid van die Oeraliese sprekers van Oeralies-Joekaghier het hulle wes van die Oeralgebergte gevestig: Saami (Lapp), Fins, Estnies, Livonies, Komi, Mordvin, Mari, Udmurt, Magyar (Hongaars) terwyl Samoyed aan beide kante van die Oerals gepraat word, en Joekaghir in die verre noordooste van Siberië. 27


Nostraties was natuurlik nie die enigste oertaal wat in die Groter Kaukasus en Midde-Ooste gepraat is ten tye van die oorgang van ‘n jagter-versamelaar- na ‘n landbou- en veeteelt-ekonomie nie; daar was ook die sprekers van Dené-SinoKaukasiese tale wat deel van die Neolitiese Revolusie uitgemaak het deur die verspreiding van landbou en veeteelt.

Dié taalfamilie het voor enige van die Nostratiese afstammelinge oor Europa versprei en is eers duisende jare later deur Indo-Europese en Oeraliese tale verdring sodat nog net Baskies in Wes-Europa oorbly. Die Noordwes- en NoordoosKaukasiërs bewoon al vir millennia die Kaukasiese gebergtes, in die verre noorde van Pakistan woon die sprekers van Burushaski, en al wat oorbly van die Jenisei-tale is Ket (Imbak) met sowat 100 sprekers in Siberië. 28


Vandag word die oorgrote meerderheid van die afstammelinge van Dené-Sino-Kaukasies in Tibet, China, Burma en Bhoetan aangetref, terwyl kleiner groepe in Alaska en dele van Kanada (Athabascan) en die VSA (Navajo) woon. Die Dené-Sino-Kaukasiese tale was die tweede groep wat die Amerikas betree het. Eerste was Amerind en duisende jare later het die derde groep, die Nostratiese Inuit-Yupik-Inangan gevolg.

Die Amerindiese moedertaal wat van Tierra del Fuego aan die suidpunt van Suid-Amerika tot in Kanada strek, toon opmerklike raakpunte met Greenberg se bovermelde Nostratiese subgroep Eurasiaties (Indo-Europees + Uralies-Joekaghier, Altaïes, Inuit-Yupik-Inangan ens). Dit beteken dat Amerindies heel waarskynlik ‘n sustertaal van Nostraties is. 29


Volgens Andrew Kitchen se filogenetiese analise was daar ‘n ekspansie uit Siberië oor die Beringstraat en regdeur die Amerikas sowat 16,000 jaar gelede, van ‘n stigtersbevolking wat uit sowat 5,000 individue bestaan het. In die Altai-gebied van Sentraal-Siberië is daar in 2010/11 ‘n genetiese spoor ontdek van die Amerindiese trek vanaf die Midde-Ooste na Beringia.

Volgens die linguïs Vaclav Blažek is die waarskynlikste scenario vir die verbrokkeling van ProtoAfro-Asiaties as volg: die Kusitiese en Omotiese groepe het rondom 12,000 jaar gelede (10,000 VHE) na die Arabiese Skiereiland migreer; Berber, Egipties en Tsjadies het ‘n duisend jaar later weggebreek, na die Nyldelta en -vallei getrek waar Egipties gevestig is, terwyl Tsjadies en Berber hulle reis na die weste voortgesit het. Die “Natufian” argeologiese kultuur in die Levant dateer uit die tydperk 12,500 tot 9,500 jaar gelede. Die bevolking het ‘n semi-sedentêre leefstyl gevolg selfs nog voor die begin van landbou. Hulle het van wilde graan, neute en vrugte geleef en wildsbokke gejag in ‘n omgewing wat natter en groener was as vandag. Die linguïs Vitaly Shevoroshkin glo dat die bevolking ‘n Afro-Asiatiese taal gepraat het, en Colin Renfrew glo dat die Natufiërs moontlik die sprekers van Proto-AfroAsiaties was.

30


Simboliek Terug na Göbekli Tepe. Nóg ‘n misterie is die stilswye van die mitologie, tensy niemand nog die narratief herken het nie. Vergelykende mitologie het ‘n aantal gedeelde elemente in die mites van mense op al die kontinente aan die lig gebring. Herhalende temas en storielyne kenmerk mites oor die ontstaan van die heelal, die skepping van die mens uit klei, die aanvanklike paradys op aarde, kommunikasie tussen mens en dier, en ‘n kataklismiese wêreldvloed.

Sedert 1996 is baie boeke geskryf wat vertolkings van Göbekli Tepe aanbied. Konsensus bestaan dat dit ‘n heilige plek of tempel was, en ander beweer dat dit ook ‘n sterrewag was waar die hemele bestudeer is. Die klippe is versier met afbeeldings van totemdiere soos leeus, luiperds, bokke, arende, aasvoëls, akkedisse, skerpioene, spinnekoppe en slange. Dis moontlik dat die leeu, skerpioen en bul na die konstellasies Leo, Scorpio en Taurus verwys. 31


Pilare 2, 33 en 43 bevat heelwat dierebeelde, wat astronomiese betekenis mag inhou, soos die aasvoël/arend wat ‘n voorloper van die latere Egiptiese Horus (valk) kan wees. Die wolf / hond mag met Anubis, die latere Egiptiese god van die onderwêreld ooreenstem. Die jakkalssimbool kan dalk ‘n voorloper van die Egiptiese Set wees, en die slange moontlike voorlopers van Egipte se Uraeussimbool op die kroon van die Farao.

Omdat Göbekli Tepe ‘n spirituele terrein was, moes daar rituele plaasgevind het wat met die dood en hiernamaals verband hou. Die prominensie van die aasvoël veronderstel ‘n assosiasie met die dood. Een van die teorieë is dat lyke daarheen gebring is vir die aasvoëls om te verorber, en dat die geraamtes dan op ander plekke begrawe is. Pilaar 18 bevat prominente son- en maansimbole. Die diamantvormige, en die C-, H- en I-simbole van Göbekli Tepe het abstrakte betekenis, en kom ook by sommige ander oerstrukture voor. Daar word vermoed dat die H-simbool na ‘n ster of na ‘n poort of hek verwys. 32


Aanhangsel A

Die Aard van Proto-Nostraties Nostraties het oor ‘n uitgebreide reeks sluit- en skuurklanke beskik in stemlose, stemdraende en geglottaliseerde vorme, drie reekse affrikate en sibilante, sowel as laterale obstruente, laringeale, faringeale, en uvulare medeklinkers. Die klinkers was *a, *e, *i, *o, en *u. Enige klinker kon in die eerste lettergreep van ’n woord verskyn, maar slegs *a, *i, en *u het in nie-inisiële lettergrepe voorgekom. Woorde het met een medeklinker begin; klinker-inisiële woorde was onbekend. Die twee basiese stamformasies was: Medeklinker + Klinker = CV en Medeklinker + Klinker + Medeklinker = CVC. Volgens linguïstiese tipologie was Proto-Nostraties ‘n analitiese taal met ‘n morfeem tot woordverhouding van 1:1. Met ander woorde, ‘n taal soos Afrikaans of Engels waarin vervoeging en verbuiging nie ‘n groot rol speel nie. Die funksie van naamwoord-verbuigings is deur agtervoegsels vervul, wat naamvalle soos akkusatief, genitief, instrumentaal, latief, ablatief en essief aangedui het. Die rigiede sinskonstruksie van Nostraties was SOV sodat die werkwoord aan die einde van die sin verskyn. Die jagter-versamelaarsprekers van Proto-Nostraties moes op ‘n relatief primitiewe kultuurvlak verkeer het. Woorde vir landbou en veeteelt is afwesig in PN se afstammelinge en daar’s nie woorde vir tegnologie nie. Semantiese kategorieë wat in die dogterfamilies identifiseer is, sluit in voornaamwoorde, woorde vir liggaamsdele, woorde vir diere soos die bul, beer, koei, leeu, luiperd, oer-os, skaap, en verskeie spesies wildsbokke. Ook natuurverskynsels en basiese werkwoorde soos buig, kap, weef, opdeel, gryp, sit, sny, staan en so meer. Die Mesolitiese era is identifiseer as die era van die Nostratiese spraakgemeenskap deur middel van die betekenis van algemene Nostratiese stamwoorde. Die visnet, wat uit die Mesolitiese tyd dateer, se rekonstruksie is *ṭul[γ]a, vanwaar Oeralies *tulko “visnet”; Proto-Kartvelies *txewl- “om vis met ‘n net te vang”; Proto-Mantsjoe-Toengoes *tölä- “om ‘n visnet te stel”; Proto-Afro-Asiaties *ṭul‘- “visnet” wat in Egipties eindelik /ӡu/ opgelewer het vir “visvang/”. Geen Nostratiese stamwoorde vir veeteelt of pottebakkery bestaan nie, maar sommige dogtertale gebruik die stamwoord *kada om na /bou/ en /potte maak/ te verwys. Die oorspronklike ProtoNostratiese betekenis is /weef-bind-vleg/. Pottebakkery is ‘n relatief laat uitvindsel wat in die vroeë neolitiese era ontwikkel het uit die mesolitiese mandjie wat met klei bedek is. Die muur en dak van die tipiese proto-neolitiese hut van die 9de millennium VHE is van pale gebou wat met takke, boombas, riete of strooi deurweef is. Soms is klei of gooipleister ook gebuik, soos by die argeologiese terreine Çayönü Tepesi naby Diyarbakır en Hallan Çemi naby Batman, sowat 178 en 275 km oos van Göbekli Tepe.

33


Etlike Proto-Nostratiese rekonstruksies. ‘n Asterisk * dui aan dat dit ‘n rekonstruksie is. Die simbool V staan vir ‘n klinker wat nie tans bepaal kan word nie.

diere Aap

*man[g]a

Bok

*buk’a

Bul

*čura

Dier met hoewe

*khaba

Dier met gesplete hoewe wat herkou

*ʔil-

Gans

*gaŋa

Hiëna

*tɬiba

Hond

*khuwon

Muggie

*k’uɢna

Oer-os

*čoma

Olifant

*haliwo

Valk

*ħora

Vis

*ķola

water Meer of see

*yama

Rivier

*ɢala

See of meer

*mara 34


voedsel Eier

*ʔuh/xi

Neut

*buta

Vleis

*ʔomsa

Vrug

*phira

mense Hoofman

*ħak’a

Niggie

*khalu

Vader

*ʔidin of *ʕedin

Moeder

*ʔema

Tante

*ʔay(y) I

praktyke Kook, bak

*ʔaph-

Offerande

*ʔ[a]lV

Toordery

*ʔarba

Vervloeking

*soty

35


Elke moderne grammatika van elke taal bevat elemente uit verskillende tydperke. ‘n Studie van die historiese klank-ontwikkeling in die Nostratiese tale kan help om lig te werp op ‘n ander terrein wat nog onbekend is: die vorming van grammatiese kategorieë soos naamvalle, enkelvoud, vs meervoud, geslags- en tydsaanduiding. Deur net die Indo-Europese tale met mekaar te vergelyk, kan mens nie by die oorsprong van die meeste naamvalle of werkwoord-verbuigings uitkom nie. Die uitgange van PIE se werkwoord in die enkelvoud teenwoordige tyd: *edmi

ek eet

*edsi

jy eet

*edti

hy eet

spruit uit die Nostratiese voornaamwoorde *mi /ek/, *ti, later *śi /jy/ en *tV /dit/.

36


Aanhangsel B

Die Grafies-Analitiese Metode Die onafhanklike navorser Valentyn Stetsyuk maak gebruik van die grafies-analitiese metode om prehistoriese etnogenetiese prosesse te karteer. Sy uiters interessante bevindinge stem ooreen met dié van navorsers in historiese linguistiek, maar dan gaan hy verder, na plekke wat nog buite bereik van die metodes en tegnieke van die tradisionele taalwetenskap lê. Volgens Stetsyuk is die Transkaukasus by uitstek die wig van die mensdom. Transkaukasië omvat die suidelike deel van die Kaukasusgebergte tussen die Kaspiese en Swart See, op die grens van Europa en Asië. Abkhazië, Artsakh, Azerbaijan, Armenië, Georgië, die suid-oostelike deel van Turkye en die noord-westelike deel van Iran vorm deel daarvan.

Die streek sluit die Kleiner Kaukasusgebergte, die Colchis-, Kura-Aras- en Lankaranlaaglande in, die (Persies: ‫ ارسباران‬Arasbârân) bergland in die suide, die Talishberge en die Armeense Hoogland. Die Araksrivier (Grieks: Ἀράξης, Armeens: Արաքս, Georgies: რახსი) vloei uit Turkye en vorm die grens tussen Armenië en Turkye, en later tussen Armenië en Iran, tot in die Kurarivier in Azerbaijan. Die Kurarivier (Georgies: მტკვარი, Mt’k’vari; Armeens: Կուր, Kur) vloei uit Turkye, en deur Georgië suid van die Groter Kaukasusgebergte, om in die Kaspiese See in Azerbaijan uit te mond. Die Rionirivier (Georgies: რიონი, Grieks: Φᾶσις), die grootste rivier in Georgië, dreineer die WesKaukasus en vloei van die ooste die Swart See. 37


In die noordweste van die Armeense Hoogland is Berg Aragats (Alaghez) omring deur ander bergpieke, plato’s en riviervalleie. Berg Ararat (Armeens: Մասիս,) ’n dormante vulkaan op die plek waar die grense van vier lande bymerkaarkom: Armenië, Iran, Turkye en die Nakhchevan-provinsie van Azerbaijan. Transkaukasië het drie groot binnelandse mere: Sevan (in Armenië), Urmia (in Iran) en Van [Wan] in Turkye, waarvan die laaste twee soutwatermere is. Hierdie mere is voorheen die “Seë van Armenië” genoem. Die oewers en omgewing van Urmia is ryk aan argeologiese terreine wat tot die neolitiese tydperk dateer, soos Teppe Hasanlu, Yanik Tepe, Hajji Firuz Tepe en Tappeh Sang-e Chakhmaq.

Stetsyuk identifiseer die heel eerste woongebiede van die grootste dogter-taalfamilies van Nostraties as volg:

38


Die Altaïese groep rondom Sevanmeer teen die suidelike hange van die Kleiner Kaukasusberge, en moontlik op die oewer van die Kurarivier tot by Ararat en die Aridagbergreeks. Indo-Europeërs oos van hulle agter die Zangezurbergreeks, in die area van vandag se Artsakh (Nagorno-Karabakh) en langs die Araksrivier tot by die moerasse aan die ooste en noorde. Die Oeraliese voorouers rondom Urmia en die Semitiese by die Van-meer in die weste. Die Elamo-Drawidiers plaas hy teen die hange van die Khakiari- en Kurdistan-bergkettings, en in die bolope van die Tigris en die Groot- en Klein Zabriviervalleie. Die Kartveelse groep, waar hulle steeds woon, aan die suide van die Kleiner Kaukasusgebergte, en ‘n deel van die Armeense hoogland in die Chorokh- en Bo-Kuravallei. Sy slotsom is gedeeltelik gebaseer op die waarneming dat Altaïes en Oeralies baie ou woorde vir /vis/ en /visvang/ het, terwyl PIE meer gespesialiseerde terme vir / jag/ het.

Stetsyuk reken dat die eerste groepe om te trek, die Elamo-Drawidiese (na die ooste) was, die Altaïese (na die noordooste) en Oeralies-Joekaghir (na die noorde). Die sprekers van PIE het langer vertoef, maar sommige van hulle het soos die voorafgaande ook deur die Derbent-pas na die noorde getrek. Die Elamo-Drawidiese teenwoordigheid aan die suide veronderstel kontak met die vroegste Sumeries, miskien selfs buite Mesopotamië, wat heelwat vrae beantwoord.

39


Bibliografie Bengtson, John D. 2008. In Hot Pursuit of Language in Prehistory: Essays in the Four Fields of Anthropology - in Honor of Harold Crane Fleming. John Benjamins. Bengtson, John D. 2010. Linguistic Fossils: Studies in Historical Linguistics and Paleolinguistics. Theophania Publishing. Blažek, Václav. 2013. Levant and North Africa: Afroasiatic linguistic history, in: Prehistory Part II: Holocene migrations. First published 04 February 2013. https://doi.org/10.1002/9781444351071.wbeghm815 Bomhard, Allan R. (1996) Indo-European and the Nostratic Hypothesis. Charleston, South Carolina: Signum. Bomhard, Allan R. (1998) Nostratic, Eurasiatic and Indo-European. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 17-49. Campbell, Lyle (1998) Nostratic: a personal assessment. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic: Sifting the Evidence. Current Issues in Linguistic Theory 142. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 107-152. Dediu, D. Abstract Profiles of Structural Stability Point to Universal Tendencies, Family-Specific Factors, and Ancient Connections between Languages, by Dan Deiu and Stephen C. Levinson. Diakonoff, I., 1990. The earliest Semitic society. Journal of Semitic Studies 43, 209–17. Dolgopolsky, A.B., 1987. The Indo-European homeland and lexical contact of Proto-Indo-European with other languages. Mediterranean Archaeological Review 3, 7–31. Dolgopolsky, A.B., 1993. More about the Indo-European homeland problem. Mediterranean Archaeological Review 6–7, 251–72. Dolgopolsky, A., 1998. The Nostratic Macrofamily and Linguistic Palaeontology. (Papers in the Prehistory of Languages.) Cambridge: McDonald Institute for Archaeological Research. Dolgopolsky, A., 1999. The Nostratic macrofamily: a short introduction, in Nostratic: Examining a Linguistic Macrofamily, eds. C. Renfrew & D. Nettle. Cambridge: McDonald Inst for Archaeological Research, 19–46. Dolgopolsky 1984 Dolgopolsky, A. On personal pronouns in the Nostratic languages // Linguistica et Philologica: Gedenkschrift für Björn Collinder. Ed. by O.Gschwantler, K. Rédei, H. Reichert. Wien, Braumüller, 65-112. Dolgopolsky 1992 Dolgopolsky, A. Nostratic etymologies and the origin of verbal formatives // Nostratic, Dene-Caucasian, Austric and Amerind. Ed. by V. Shevoroshkin. Bochum, Brockmeyer, 290-7. Dolgopolsky 1966 Dolgopolsky, A. Which languages are related to the European ones? A popular article on Nostratic (Borean) hypothesis by Aharon Dolgopolsky. First published in "Znanie - Sila", 1966, 7, p. 26-29. English translation by M. Borun. 40


Greenberg, Joseph H. 1987. Language in the Americas. Stanford, Stanford University Press. S. Hansen, Guram Mirtskhulava, Katrin Bastert-Lamprichs, Neolithic settlements of the 6th millennium BC in the southern Caucasus. In: O. P. Nieuwenhuyse/R. Bernbeck/P.M.M.G. Akkermans/J. Rogasch (Hrsg.) Interpreting the Late Neolithic of Upper Mesopotamia (Turnhout 2013) 387-396. Kitchen, Andrew. 2008. Inferences Of Recent And Ancient Human Population History Using Genetic And Non-Genetic Data. University of Florida. Oswalt, Robert L. (1998) A Probabilistic Evaluation of North Eurasiatic Nostratic. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 199-216. Ramer, Alexis Manaster; Peter A. Michalove, Karen S. Baertsch, and Karen L. Adams (1998). Exploring the Nostratic Hypothesis. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 61-84. Ringe, Don (1998) A Probabilistic Evaluation of Indo-Uralic. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 153-198. Ruhlen, Merritt (1991). A Guide to the World’s Languages. Vol 1. Stanford, Stanford University Press. Salmons, Joseph C. and Brian D. Joseph (1998) Introduction. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 1-12. Stetsyuk, Valentyn, Historical Macrolinguistics. Stetsyuk, Valentyn. The Urheimat of the Nostratic Languages. Uys, Pieter. Eurasiaties en Nostraties. www.scribd.com/doc/237047195/Eurasiaties-en-Nostraties Uys, Pieter. Die Skaap en die Perde. www.scribd.com/doc/236909679/Die-Skaap-en-die-Perde-n-Sprokiein-Proto-Indo-Europees-met-Afrikaanse-Duitse-en-Engelse-vertalings Vine, Brent (1998) Indo-European and Nostratic: Some further comments. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 85-106. Vovin, Alexander (1998) Nostratic and Altaic. In: Joseph C. Salmons and Brian D. Joseph (eds.) Nostratic. Sifting the evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 257-270.

41


Internetbronne www.academia.edu/24363615/The_Urheimat_of_the_Nostratic_Languages www.languagesoftheworld.info/language-families/on-the-nostratic-hypothesis.html https://www.v-stetsyuk.name/en/Research/Common.html paleoglot.blogspot.com/2007/03/what-is-nostratic-theory.html members.ancient-origins.net/common-cosmic-symbolism http://asya.pereltsvaig.com/linguistics/ www.nostraticlanguage.info/ www.secret-bases.co.uk/wiki/Nostratic_languages www.aa.com.tr/en/culture/ancient-site-older-than-gobeklitepe-unearthed-in-turkey/1664156 https://boncuklu.org/about-boncuklu/what-we-have-found/ https://starling.rinet.ru/gstarst/interests.htm https://paleoglot.blogspot.com/search/label/protolanguage

42


Indeks Ainoe

25

Afro-Asiaties

21, 28

Akkadies

19

Altaïes

25, 27, 35, 36

Amerindies

27

Arabies

18, 19

Araksrivier

35

Armeens

35

Athabaskies

27

Baskies

26

Berber

19, 27

Beringstraat

30

Blažek, Vaclav

28

Bomhard, Allan

17, 18

Boncuklu Tarla

9

Burushaski

27

Çatalhöyük

10

Dene-Sino-Kaukasies

26

Diere

13

Elamities

18, 23, 36, 37

Etruskies

23

Eurasiaties

16, 17, 18

Fins

21 43


Fonologie

12

Fins

19

Ge’ez

19

Georgies

34, 35, 36

Germaans

11

Greenberg, Joseph

17, 18

Grammatika

31 - 34

Haran

4, 5

Hausa

18

Hongaars

21

Illich-Svitych, Vladislav

14

Japanees

22, 27

Karahan Tepe

6, 8, 9

Kartveels

16, 22, 35, 36, 37

Kaukasus

22, 35, 36, 37

Koerdies

26

Koreaans

25

Koring

6

Kusities

19

Landbou

22, 26, 28, 31

Lettergreep

12

Makrofamilie

17

Mitologie

30

Mitanni

25

Mongools

24

Morfologie

31 44


Navajo

27

Nevalı Çori

6

Naamwoord

14, 15, 16

Proto-Nostraties

14, 15

Oeralies

22, 27, 35, 36, 37

Omoties

18, 19

Oromo

19

Ossetties

19, 24

Persies

23

Proto-Indo-Europees

12, 13, 14, 20, 21, 37

Religie

8, 30, 31

Rig Veda

25

Romaanse tale

11

Şanlıurfa

8

Sanskrit

12, 25

Semities

19, 320, 21, 35, 36

Simbole

29, 30

Sinskonstruksie

12

Somali

19

Stam(woorde)

11

Stetsyuk, Valentyn

37

Sumeries

37

Swadesh-lys

11

Tamil

17, 18, 22

Telugu

35, 36, 37

Taalverwantskap

11 45


Toengoes

25

Transkaukasus

35, 36, 37

Tsjadies

18, 19, 28

Turks

23

Ur

4, 5

Veeteelt

22, 26, 28, 31

Vokaalharmonie

22

Werkwoord

31

Xinjiang

23

Nagevors en saamgestel deur Pieter Uys, ©2021.

46


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.