Allan Bomhard stem saam met John C Kerns dat die Mesolitiese kultuur sy oorsprong in die vrugbare sekelmaan in die Midde-Ooste net suid van die Kaukasus moes gehad het, en dateer die taal op tussen 15 000 en 12 000 VHE, met ander woorde 17 000 tot 14 000 jaar gelede. Dié groter tuislandgebied sluit Suid- en Oos-Anatolië, Noord-Sirië, Noord-Irak en die Transkaukasus in. Volgens Allan Bomhard is die taalfamilies wat van Nostraties afstam: Eurasiaties (Indo-Europees, Oeralies-Joekaghier, Altaïes, Chukchi-Kamchatkan, Nivkh (Gilyak), Inuit-Yupik-Inangan), Kartveels (tale van Georgië), Afro-Asiaties en ElamoDrawidies (Elamities het uitgesterf en Drawidies sluit Tamil en Telugu in), en die taal Etruskies.
Volgens Bomhard en Greenberg, sluit Nostraties die volgende families in: AfroAsiaties, Eurasiaties, Kartveels en Elamo-Drawidies. Afro-Asiaties is ‘n besonder ou en onafhanklike groep, en die eerste om van die Nostratiese spraakgemeenskap weg te breek. ‘n Oorsig van die woordeskat, voornaamwoorde en morfologiese stelsels van die Eurasiatiese tale blyk dat hulle hegter aan mekaar verwant is as wat enigeen van hulle aan Afro-Asiaties, Kartveels en ElamoDrawidies verwant is. In die voornaamwoordstelsel vind Kartveels aansluiting by Eurasiaties, maar sy gebruik van voorvoegsels plaas hom nader aan Afro-Asiaties. Elamo-Drawidies se naamwoordverbuiging en werkwoordvervoeging stem ook baie met dié van Eurasiaties ooreen.
17