Gewasproduksie
Kies presies die regte presisietoerusting vir jou plaas Sodra jou stroper se presisietoerusting reg is, kan jy na die ander afdelings van presisieboerdery begin kyk.
B
oere boer al hoe slimmer. Die dae wat ՚n boer sonder ՚n rekenaar of slimfoon oor die weg kon kom is verby. Tegnologiese vooruitgang en voortdurende ontwikkeling veroorsaak dat elke boer wat mededingend wil bly vandag net soveel tyd voor ՚n skerm moet bestee as agter die bakkie of trekker se stuurwiel. Boere steun al hoe swaarder op tegnologie om doeltreffend te kan boer, want daar moet seker gemaak word dat elke druppel water en korrel kunsmis verreken word om elke pit en plant ten beste te laat presteer. Om die boer daarmee te help, is ՚n groot verskeidenheid presisietoerusting beskikbaar, en elke verkoopskonsultant vertel die boer sy produk is die beste. Hierdie tegonologie kos natuurlik ook geld. Om R170 000 (sonder BTW) vir ՚n basiese skerm te betaal, is glad nie ongehoord nie. In baie gevalle vind die boer dan later uit dat die toerusting hom nie in staat stel om alles te doen wat hy graag sou wou doen nie, en dan kom daar verdere uitgawes om die stelsel op te gradeer. Dit is nie net boere wat vir die eerste keer met hierdie tipe toerusting te doen kry nie, maar ook gesoute presisieboere wat al dikwels ՚n kat in die sak gekoop het. In ՚n mededingende landboumark bestaan daar nie meer iets soos ՚n swak produk nie. Indien ՚n maatskappy se produk nie op standaard is nie, sal hulle dit doodeenvoudig nie oorleef nie. Daarom is alle presisieprodukte ook oor die algemeen op ՚n redelik hoë standaard. Die verskil kom egter in wanneer die produk nie geskik is vir die toepassing waarvoor hy aangekoop is nie. www.proagri.co.za
Hoe moet ՚n boer dan maak om seker te wees dat hy nie iets ten duurste koop waaroor hy later gaan spyt wees nie? ProAgri het met ՚n paar kenners gaan gesels om die volgende lys wenke saam te stel om te sorg dat jy presies die regte toerusting vir jou boerdery kies:
Besluit waar jy oor vyf of tien jaar wil wees
Die eerste stap is om te besluit wat die doel met die toerusting is. • Wil jy graag jou eie voorskrifkaarte vir saad en kunsmis kan skryf? • Of wil jy net inligting insamel sodat die landboukundiges die voorskrifkaarte vir jou skryf? • Wil jy meer ton per hektaar oes? • Of wil jy jou insetkoste beter bestuur?
Hierdie is van die vrae wat die boer homself moet afvra voordat hy begin geld bestee aan presisietoerusting. Indien die boer ՚n seun het wat binne die volgende paar jaar by die boerdery gaan betrokke raak en later sal oorneem, is dit ՚n goeie gedagte om hom ook by hierdie proses te betrek. Jy wil dalk oor vyf jaar aftree, maar jou seun wil dalk nog dertig jaar op die plaas boer en moontlik uitbrei. Wat sal die beste wees oor die langer termyn?
Waar begin ek?
Na ՚n deeglike kajuitraad het die boer nou ՚n medium- en langtermynplan, en hy kan daarvolgens begin werk aan wat hy nodig het om daardie bepaalde doelwitte te bereik.
Jy hoef nie die nuutste en beste planter te hê om presisieboerdery toe te pas nie. Jy moet net seker maak dat jou planter behoorlik werk en akkurraat plant.
ProAgri 254 April / April 2021
7