Spore van Verlore Tale I Die Taal van Riviername Dis die heel oudste laag van substrata wat in riviername uitgeken kan word, van Ierland in die weste tot by Belarus in die ooste, Spanje in die suide en Skandinawië in die noorde. Dis heel eerste deur Hans Krahe waargeneem wat dit as Indo-Europees beskou het. Die Leidense Skool van Historiese Taalkunde beskou dit as ˈn Nie-Indo-Europese taal, en beweer dat dit min invloed op die later Europese tale gehad het. Die wortel ISER verskyn in riviername soos die Ijser (Nederland), Aire (Yorkshire), Oise (Frankryk), Saar (Duitsland), Iza (Roemenie) en Esaro (Italië). Die wortel DUR verskyn in onder meer Eder, Oder, Dordogne, Douro en Drava. Volgens Theo Vennemann se Waskoniese teorie, is dit ˈn taal wat aan ˈn oer-oue voorouer van Baskies verwant is. Baskies se naaste verwante is die Noordoos-Kaukasiese tale van Dagestan, Tsjetsjnië en Ingoesjetië.
II Die Taal van Voëlname Hierdie taal staan ook bekend as Substratum Laag A1 van die Leiden-Skool, en word gekenmerk deur ˈn klinker /a/ wat dikwels as beklemtoonde voorvoegsel verskyn het. Die taal het oor skuurklanke beskik, soos /x/ = Afrikaanse G, en Engelse th soos in ’that’. ˈn Hoë persentasie woorde het met /k/ begin. Die diftong /aə/ word /a/ in Britse Kelties en /ai/ in Germaans: *laəwađ = lewerik *astrap = weerlig *krexar = kraanvoël *spraew = spreeu *akr = akker(boom) *kekan = kaak *hod = hoed *kagila = kegel
17