Docks Police arrested 300 harbour women Ek was ongeveer drie maande in die Mag toe ek vanaf Kaapstadstasie na Tafelbaai dokke oorgeplaas was. Op daardie stadium was ek nog ʼn rekruut. Ek was sewentien jaar oud en was nog nie in die Kollege gewees nie. Nog nat agter die ore en met min lewenservaring het ek saam met die beroemde, of eerder berugte, Etsebeth broers en sersant Engels gewerk. Prostitusie was toe nog iets waarvan ek niks geweet het nie. Dit was ʼn bedryf wat hooggety in die hawe gevier het. Dié betrokke aand was dit my eerste keer dat ek teenwoordig was toe hulle die prostitute op die skepe vasgetrek het. Die prostitute was gewoond aan die arrestasies en het hulle nie veel aan ons gesteur nie. Wat hulle wel gedoen het, was om allerhande aanmerkings teenoor my te maak van “ kyk hoe oulik is hy, seker mamma channa se seun” - wat dit ook al beteken het. Van tyd tot tyd het ons toestemming van die verskillende lande se konsulate gekry om hulle bote, wat in die hawe vasgemeer was, vir prostitute te deursoek. Jong, dit was ʼn groot operasie. Partykeer het die prostitute vir ons weggekruip en dan moes ons hulle op die onmoontlikste plekke van die bote gaan afhaal het. Telkemale was hulle kaal en het hulle dan geweier om hulle klere aan te trek. Sonder enige seremonie en tot groot vermaak van die hawe personeel, het ons hulle net so kaal agter in die vangwa gelaai. Ons het een aand die Argus se hoofopskrif gehaal wat gelui het: “Docks police arrests 300 harbour women.” Goeie tye. (Johan Marais) DIENSTE EN SAKE OP SPOORWEGSTASIES Bewaking van die Wit trein. In 1966 het die Staatspresident van die Republiek van Suid Afrika nog met die Wit trein gery wanneer hy vir lang afstande deur die binneland moes reis. Die trein was spesiaal vir die President en sy gevolg ingerig. Dit was die verantwoordelikheid van die S.A. Spoorwegpolisie om die trein te bewaak wanneer die President op reis was. Ek was daardie jaar ʼn jong konstabel te Bloemfontein. So gebeur dit dat ek en vyf ander lede opdrag gekry het om die Wit trein waarin Staatspresident Jim Fouché en sy vrou, Tannie Lettie Fouché, mee gereis het vir drie weke moes gaan bewaak waar dit op Paul Roux stasie gestaan het. Oom Jim en Tannie Lettie was met vakansie op hulle plaas in die distrik. Met die aankoms van die President op die stasie het alles wat kon blink, geblink. Die stasieperron was netjies en skoon. ʼn Groot groep belangstellendes en amptenare het die Presidentspaar op die platform ingewag. Nadat die formele prosedures afgehandel was, het ons in hulle rigting gestap toe Oom Jim vassteek, sy hand uitsteek en elkeen van ons groep se blad geskud het. Sy woorde aan ons was: “Julle moenie bekommerd wees nie, ons sal na julle kyk.” Dit was toe ook so. ʼn Rytuig was vir ons ingerig waarin ons geslaap het en maaltye het ons in die eetsalon van die Wit trein genuttig wat deur Oom Jim se personeel voorberei was. Baie belangstellendes en nuuskieriges het die stasie besoek om te kyk hoe die Wit trein lyk. Ons het vir drie weke die ervaring gehad van hoe dit voel om soos die Staatspresident behandel te word. Nogal iets wat ek graag vir ʼn langer periode sou wou geniet het. (Douglas Du Randt) Die beskuldigde wat mal geword het. Daar was nag vir nag by die stasie kafee op die Suidelike voorstede in Kaapstad ingebreek. Inligting het daarop gedui dat ʼn bende vir die inbrake verantwoordelik was. Ek en speurderkonstabel Chris Fourie was die ondersoekbeamptes in die saak. Na baie nagte se observasie en min slaap het ons einde ten laaste die bende op Mowbray gearresteer. Dit was toe die gearresteerdes se beurt om te praat en hulle het soos kanaries gesing en die dossier was nog dieselfde nag voltooi en die bewysstukke was ingeboek. Al wat oorgebly het om te doen, was om toe te sien dat die beskuldigdes die volgende oggend in hof 14, wat die uitstelhof in Kaapstad was, verskyn het. Toe die beskuldigdes voor die landdros verskyn het, het beskuldigde nr.1 dit goed gedink dat hy die landdros sal probeer oortuig dat hy geestelik versteurd was. Toe hy gevra was om te pleit het hy die grootste klomp nonsens denkbaar begin babbel. Die landdros het noodgedwonge besluit om uit te vind of daar dalk enige van sy familie in die hof teenwoordig was. Die landdros het die beskuldigde gevra: “Beskuldigde nr.1,
102