wegkyk, slaan hy my onder my polisie pet uit. Terwyl ek die astrante donner die vierde maal met die knuppel bykom, gryp die wyksersant my knuppel, en sê: “Stadig nou, netnou maak die Ingelsman dit nie." Ek was ook bevoorreg om vir die bekende Dokter Chris Barnard parkeer ruimte voor die stasie aan te bied toe hy ‘n vriend dringend op die hooflynplatform moes ontmoet het. Dit was ook baie interessant wanneer al die personeel van die parlement vanaf Pretoria met die trein te Kaapstad stasie vir die sitting van die parlement arriveer het. Dit was dan ook gedurende Februarie ‘n bedrywige tyd tydens die parlementsopening. In 1969 het ek bedank om by die S.A. Weermag aan te sluit waar ek my loopbaan as Regiment sersantmajoor in die Militêre Polisie Korps in 1994 voltooi het toe ek met pensioen gegaan het. (André Erasmus) SPOORWEGKOLLEGE ESSELENPARK. Die B.O. se opdrag? Ek en Flip Aslett het die trein vanaf Pretoria na Kaalfontein stasie gehaal; die groot oomblik het aangebreek ons was na Esselenpark oppad om vir ons basiese opleiding aan te meld. Teen daardie tyd herkou ons aan die honderde angswekkende stories wat ons van die Kollege en die instrukteurs gehoor het. Ons twee was heelwat stiller as normaalweg. Die innerlike vrese wat op ons gewag het, het die situasie oorweldig. Op die trein het ons die laaste sigaret in totale vrede gerook. Toe die trein op Kaalfontein stasie tot stilstand kom, het dit vir my gevoel asof my polsslag al vinniger klop. Nadat ons die trein met groot onsekerheid verlaat het, sukkel ons voort met al die bagasie oor die voetgangersbrug. Aan die anderkant van die platform was ons deur sersant Giftand Roelofse “verwelkom”, om die minste daarvan te sê. Een van die stories wat die seniors ons mee bang gemaak het was dat jy met al jou bagasie vanaf die stasie na die kwartiere moes hardloop. So in die geskreeu en harwar het ek uit die hoek van my oog ʼn spoorwegbus opgemerk wat eenkant geparkeer gestaan het. Daar was geen ander passasiers op die stasie nie, so die logiese afleiding was dat ons rowe met die bus na die kwartiere vervoer sou word. Groot was my ontsteltenis toe ons opdrag kry om voor die bus aan te tree en die bevel kry: “Looppas mars!” Nie almal het geweet wat die bevel beteken het nie, maar daar gaan die rowe. Ons hardloop vooruit soos ʼn trop beeste met sersant Roelofse aan die stuur van die bus wat ons volg. Toe ons die draai by die kerk bereik, het die bevel gekom: “Halt!” Ons oor mekaar gestruikel, tasse het geval en die bus het agter ons stilgehou. Ewe kalm en beleefd was ons deur die einste sersant versoek om in die bus te klim. Snaaks dat sy stemtoon in so kort tydperk verander het. Nou was ek eers bekommerd. Wat is die volgende wat gaan gebeur? My pa was op daardie stadium die Bevelvoerende Offisier van die Kollege. Hy was van oordeel dat die rowe op ʼn meer menslike wyse by die Kollege verwelkom moes word. Die instrukteurs het anders oor die saak gevoel. Die opdrag van die B.O. was darem gedeeltelik uitgevoer; ons het die laaste honderd of wat meter met die bus gery en dit het die menslike wyse wat my pa in gedagte gehad het, gedemonstreer. Jare daarna was ek weer op pad na Esselenpark. Hierdie keer om die Anti-kaperskursus te deurloop. My kollegas op die trein was Harry Etsebeth, Jumbo Swart en Dean. Van die vrese wat daar was toe ek vir die eerste keer na Esselenpark gereis het, was daar hierdie keer geen sprake van nie. Inteendeel, ons was luidrugtig en vol bravade. Hierdie keer het ons nie net in vrede gerook nie, maar gedrink ook. Op Kraaifontein stasie het die eerste leë bottel Wellington met die ballasklippe kennis gemaak. Ons het die kroegman op die trein deurentyd ondersteun. Met aankoms by De Aar stasie was die kroegman genoodsaak om sy kroeg se voorrade aan te vul. Die volgende dag arriveer ons op Kaalfontein stasie. Die ontvangs hierdie keer was presies die teenoorgestelde as die dag toe ons as rowe gearriveer het. Ons was vriendelik ontvang en na die kwartiere vervoer. Moeg na die lang treinrit en vol van die Wellington voggies wat ons so mildelik op pad gebruik het. Die beste manier, volgens kaptein Flip Schutte, André Olivier en sersant Abbott om van die oortollige voggies ontslae te raak, was ʼn besoek aan die gimnasium. Fiksheid was die grondslag vir die kursus. Weet tot vandag toe nog nie waarom ons met die eerste besoek aan die gimnasium so baie gesweet het nie.
200