goed georganiseerde stelsel wat by die lughawe in werking was. Al die vreemde tale en my eie drome van oorsee gaan het die negatiewe oorheers. Op ‘n dag het ‘n Portugees/Spaans sprekende vrou en haar ma na ‘n spesifieke lid op die lughawe gevra. Ek het geantwoord dat die betrokke persoon wel op die lughawe werksaam was, maar dat die persoon op daardie spesifieke tyd in die buiteland was. Hy was een van die anti-kapers wat gereeld oorsee gevlieg het. Sy het aanhoudend na haar maag gewys en wat sy gesê het was: “Bambino.” Die lig het toe vir ons opgegaan dat sy met die kind van ons kollega swanger was en dat hy niks daarvan geweet het nie. In vandag se taal sou hulle gesê het “management” was nie “impressed” nie; ons almal moes vir dae lank vergaderings bywoon waarin ons duidelik vertel was hoe ons onsself moes gedra het. (Annatjie Denysschen) SEEHAWENS Die seevaart na Lüderitz Die S.A.Spoorwegpolisie was verantwoordelik vir die polisiëring van alle lug - en seehawens in die Republiek van Suid Afrika en Walvisbaai. Ten einde die seehawens as Nasionale Sleutelpunt te kon beskerm, het die Spoorwegpolisie by elkeen van die onderskeie seehawens oor ʼn Watervleuel beskik. Hierdie eenhede was verantwoordelik vir die patrollering van die hawens en die gebiedswaters van die Republiek. Derhalwe was elk van die eenhede met ʼn patrollieboot uitgereik om in samewerking met die Suid Afrikaanse Vloot, die Handel en Skeepvaartswette en Regulasies toe te pas. Walvisbaai het op daardie stadium nog nie oor ʼn polisieboot beskik nie. Indien hulle polisiëring op die oop see wou verrig het, moes hulle die Hawekaptein vir vervoer genader het. Konstabel André van Rensburg, ʼn boorling van Walvisbaai, is op 19 Julie 1959 in die ou Walvisbaaise Hospitaal gebore. Nadat hy sy skoolloopbaan in Walvisbaai voltooi het, het hy op 23 Januarie 1978 by die S.A. Spoorwegpolisie in Walvisbaai aangesluit. Na sy basiese opleiding, wat hy in Desember 1978 by die kollege te Esselenpark voltooi het, was hy na Kimberley-lughawe verplaas waar hy later na die Speurafdeling oorgeplaas was. In Februarie 1980 was hy as sersant na Walvisbaai Uniformtak verplaas waar hy in bevel van die Mobiele Eenheid was. Die werksaamhede by dié eenheid het meegebring dat hy die hele Suidwes plat gery het met die hou van padblokkades en om hulp te verleen met die ondersoek en nasien van Padvervoer permitte in die streek. Vir ‘n seun wat in Walvisbaai grootgeword het, was bote altyd ‘n integrale deel van sy daaglikse lewe. Dit kon ook nie anders nie want Walvisbaai was immers ’n hawe- en vissersdorp. Sy pa het in die hawe gewerk en hy was dus op ‘n vroeë ouderdom aan die vreemde bekoring wat bote aan ‘n jong seun verskaf, blootgestel. Baie van sy vriende op skool se ouers was vissermanne of het ook in die hawe gewerk. Kaptein Van Heerden en luitenant Du Toit het die visie gehad dat Walvisbaai eendag oor sy eie patrollieboot moes beskik. Van Rensburg het geen vorige ervaring gehad nie, behalwe vir die feit dat hy ‘n paar keer die geleentheid gehad het om met ‘n verskeidenheid van bote en skepe, die oop see in te vaar. Vir die Streekoffisier en die Posbevelvoerder was sersant Van Rensburg die aangewese lid om as Skipper opgelei te word. Gedurende 1980 was daar met die Hawekaptein gereël dat hy die nodige opleiding as Skipper moes ontvang sodat hy die dag wanneer Walvisbaai sy eie boot ontvang, reeds as Skipper gekwalifiseer sou wees. Die opleiding het oor ‘n periode van vier maande gestrek en dit het onder die beheer van die Hawekaptein plaasgevind. Die opleiding was kortliks in drie verskillende fases ingedeel Fase 1. Die eerste maand het hy as dekhelper op die groot sleepbote gewerk en moes hy “chip & paint”, leer knope maak, tou en staal kabel split, die verskillende maniere aanleer hoe om die sleepboot teen die kaai te anker, brandbestryding toepas, die gebruik van reddingstoerusting aanleer en dan natuurlik ook die dek skrop, koper poleer en nog ’n hele paar peuselwerkies. Fase 2. Die tweede maand het hy as stuurman op dieselfde sleepbote gewerk en het hy geleer hoe om die sleepbote te stuur, hoe om op die bevele van die Kaptein te reageer en hoe om die kompas te lees en daarvolgens te stuur ten einde op koers te bly.
92