NUUS DEUR LOURIEKE HALLER
FLAGS
Suksesverhaal in Senekal
VAN VERDEELDHEID TOT EENHEID Verlede jaar is die land geruk deur die gebeure in Senekal ná die moord op die jong boer, Brendin Horner. Haat en rassisme is aangeblaas en almal het asem opgehou en gehoop dat die kruitvat nie ontplof en daar ’n burgeroorlog uitbreek nie.
Frans Cronje saam met pastoor John Mathuhle
“Civil war will not start in Senekal,” het pastoor John Mathuhle egter verklaar en toe ’n gebedsbyeenkoms op die dorp gereël. “Almal haat nie, almal leef nie volgens die ons-enhulle-skeidslyn nie. Daar is dié wat weet dat ons stryd nie eerstens teen vlees en bloed is nie, maar teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld,” het hy gesê. Hy het gereël dat die Christene van die dorp – swart en wit, oud en jonk – op die dorpsveld se pawiljoen byeenkom en vir Senekal en die land intree. Die beeld van mense van alle rasse wat saam bid, het ’n vlam van hoop laat opflikker en salf aan oop, seer wonde gesmeer. Die voorspelde bloedbad is afgeweer en nou, ses maande later, lyk dinge inderdaad geestelik en fisies heelwat anders as die ontstellende beelde wat op televisie en voorblaaie vertoon is. In plaas van oorlog is daar vrede gemaak. Die mense van die dorp het hande gevat en die Senekal Matwabeng Community Forum (SMCF) gestig om die dorp te herbou. Daar word gepraat van ’n “servolution – a serving revolution”. Die hele gemeenskap werk saam om skoon te maak en te herstel. Vrywilligers gebruik hulle eie gereedskap en van die boere stel hulle trekkers en vragmotors beskikbaar.
Praktiese nasiebou South Africa Day, ’n organisasie met baie ervaring in gemeenskapstransformasie, is genader om die stigting van hierdie forum te help fasiliteer. “South Africa Day gaan oor nasiebou en fokus daarop om daardie hoop in tasbare aksie te verander,” sê Barend la Grange, die hoof- operasionele beampte van die organisasie. “Ons doel is om almal te inspireer om aan die opbou van die land deel te neem. Dit is presies wat tans in Senekal Matwabeng gebeur. Dit is so bemoedigend om te sien wat reeds deur die mense van hierdie pragtige Vrystaatse dorpie gedoen is. Die verskillende gemeenskappe, die besigheidsektore, die boere, organisasies, kerke en plaaslike regering – al die rolspelers het hande gevat.” xx JUIG! TYDSKRIF 12 JUIG! TYDSKRIF
’n Voorbeeld van die praktiese resultate van die samewerking. Dié oorgroeide parkie is skoongemaak en opgeknap vir die dorp se kinders