Visie
FLAGS
JUIG! Tydskrif wil God verheerlik deur te onderrig, in te lig, ’n Bybelse wêreldbeskouing te bevorder en op elke terrein van die lewe aan die heerskappy van Jesus Christus gestalte te gee.
Fokus op die ewigheid “Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” – 2 Korintiërs 4:18
E
en van my beste vriende en mentors is onlangs oorlede. Sedert die dag dat hy oorlede is, het ek aan en af oor ons vriendskap gepeins. Ek het die aand toe ek die hartseer nuus hoor, wakker gelê. Bykans elke ervaring wat ons die afgelope 25 jaar gedeel het, het in my gedagtes gemaal. Ek dink dit was die Here se manier om my te help om dit te verwerk en nie hartseer te wees nie, maar om eerder sy lewe en alles wat hy vir die Koninkryk van God gedoen het, te vier. Hy het my geleer om te evangeliseer en Christus deel te maak van alles in my lewe. Hy het my geleer om op die ewigheid te fokus. Ons uiteindelike doel moet wees om ons beloning van die Here te ontvang en Sy bevestigende woorde aan ons te hoor. Ons moet ernstig besin oor wat ons elke dag doen en onsself altyd afvra: “Het dít ewigheidswaarde?” As dit nie die geval is nie, moet ons vra of ons hoegenaamd tyd, finansies of moeite daaraan moet bestee.
Vertrou altyd op die Here se leiding Dit het my herinner aan ’n voorval toe ek eendag te doen gekry het met ’n aankoper van ’n groot supermarkkettingwinkel wat JUIG! Tydskrif nie meer op sy rakke wou hê nie! Hy het verskeie redes gegee: dat hy meer lekkers op die rakke wil plaas omdat dit vinniger verkoop, tot om die ruimte op die rakke aan ’n gewilde sekulêre tydskrif toe te ken wat meer ruimte benodig het. Hy het erken dat hy ’n ateïs is en voel dat die res van die wêreld ook met hom saamstem en dat ’n mens nie “godsdiens” in ’n supermark moet verkoop nie. Natuurlik was ek baie moedeloos ná daardie vergadering, want ons tydskrifte sou nie kon bestaan as ons nie afsetpunte vind om ons publikasie te verkoop nie. Daardie aand het ek gebid en gevoel dat die Here my lei om vir die aankoper te sê dat daar uit al die duisende produkte wat hulle in hul winkels verkoop, slegs een is wat ewigheidswaarde het. Net een wat op die oordeelsdag iets van waarde sou wees. En nou is dit die einste publikasie wat hy wil verwyder. Hoe sou hy eendag voor die Here daarvoor verantwoording kon doen? Dit was ’n kragtige openbaring en ek was senuweeagtig om hierdie waarheid in my e-pos aan die aankoper oor te dra. Ek het dit egter gedoen omdat ek gevoel het dat ek niks het om te verloor nie en ook seker was dat die Here wou hê ek moet dit vir hom sê. Ek dank die Here dat die aankoper geluister het; ons tydskrif is vandag nog op hulle rakke sodat ons getroue lesers dit steeds kan geniet.
Mag dit jou aanmoedig! Ek het een ding hieruit geleer: Die Here gee nie so ’n kragtige openbaring (oor ewigheidswaarde) aan iemand wat ’n openbare platform het, sonder dat daardie boodskap ook verder uitgedra moet word nie. Ek vertrou dat hierdie openbaring ook ’n invloed sal hê op alles wat jy elke dag doen.
Seënwense
Eienaar en hoofredaktrise
Waardes • Streef na uitnemendheid en integriteit in alles • Verskaf altyd interessante, akkurate en eerlike artikels • Respekteer alle Christen-denominasies • Streef daarna om die Liggaam van Christus te verenig • Evalueer alles in die lig van die Skrif • Moedig lesers aan om die Bybel-mandaat van sout en lig wees in die gemeenskap te vervul • Moedig lesersdeelname aan • Motiveer lesers tot aksie • Fokus op oplossings xx JUIG! TYDSKRIF • Aanvaar persoonlike verantwoordelikheid